Bendelede swaar gestraf: Gemeenskap verheug oor uitslag van saak

Polisielid in hof vir veediefstal


Die gemeenskap van Uitsig in Ravensmead het hul tevredenheid uitgespreek met die swaar straf wat vier bendelede verlede week opgelê is.

Mahlubandile Jacobs, Vincent Davids, Moegamat Swarts en ’n verdagte wat tydens die moorde minderjarig was, het die volle gesag van die reg gevoel vir misdade wat hulle in 2019 gepleeg het.

Op ’n aand in Maart 2019 het die minderjarige en Jacobs by wyle Christopher Cornelius se huis opgedaag om geld te eis. Hulle is leë hande weg, maar het die volgende dag teruggekeer en Cornelius en sy vierjarige kleindogter, Lakesha Joubert, doodgeskiet.

’n Buurvrou wat die aanval aanskou het, Glenda Ruiters, is kort daarna in haar huis vermoor. Davids, wat die leier van die bende was, en Moegamat Swarts het na haar huis gegaan, geklop en toe Ruiters oopmaak, het Davids haar in die kop geskiet. Nikita Ruiters, Glenda se dogter, het net oorleef omdat sy by haar sterwende ma gebuk het en die koeëls haar gemis het.

Een van die moordenaars was 16 ten tyde van die moorde en is 20 jaar effektiewe tronkstraf opgelê. Jacobs is drie keer lewenslank opgelê – 10 jaar vir sameswering tot moord en 22 jaar vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Swart gaan effektief 25 jaar lank tronkkos eet, terwyl Davids 10 jaar vir sameswering, lewenslank vir moord en 12 jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie gaan sit.

Past. Adam Alexander, ’n gemeenskapsleier, het die vonnisse verwelkom.

“Ons as ’n gemeenskap het vir jare onder hierdie manne gesukkel en het in ’n stadium gewonder of die regstelsel ons gefaal het. Hierdie ouens het die gemeenskap geterroriseer en het geen respek vir die gemeenskap of menselewens nie. Ek hoop die bendes wat nog hier bedrywig is, gaan die harde en duidelike boodskap kry dat bendes swaar gestraf gaan word,” sê Alexander.

Kapt. Odwa Makapula, polisiewoordvoerder van die Ravensmead-polisie het die vonnisse verwelkom. “Ons wil die ondersoekspan bedank wat hierdie saak hanteer het. Hulle het onverpoosd gewerk,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article