Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images


Waarskuwing: Die inhoud van hierdie berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Twee gevalle van vroue-mishandeling het die groter Bellville-gebied die afgelope twee weke geruk.

In die eerste een, waarvan daar beeldmateriaal bestaan wat TygerBurger onder oë gehad het, slaan ’n man ’n vrou herhaaldelik op ’n bed terwyl ’n kind hom probeer keer.

Die man wurg op een stadium die vrou, trek later haar hare en hou aan om haar te slaan totdat sy op die vloer val.

Hul name en presiese buurt word weerhou om die identiteit van die minderjarige kind te beskerm. Hulle bly egter in die groter Bellville-area (wat Durbanville, Bellville, Parow en Welgemoed insluit), omdat sake wat in daardie areas plaasgevind het deur dié hof bedien word.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree namens die ma en kind op.

“In tonele, wat herinner aan die Jaco Swart-aanrandingsaak wat gelei het tot landwye verontwaardiging en veroordeling, kan gesien word hoe ’n man op ’n bed ’n vrou oorrompel, haar oor haar hele lyf, insluitend haar gesig, slaan en haar wurg.

“Terwyl hy dit doen, probeer ’n jong meisie die aanranding keer,” sê Barry Bateman, AfriForum se privaatvervolgingseenheid se kommunikasiebestuurder.

Bateman sê heelwat voorvalle is op die geslote kringtelevisie vasgevang.

“In Augustus 2018 het die privaatvervolgingseenheid se kliënt ’n saak van aanranding teen haar man geopen. Die polisie het die beskuldigde gearresteer en hy is later borgtog toegestaan.

Jare se mishandeling

“Ongelukkig het jare se fisieke en emosionele mishandeling sy tol op die vrou en haar dogter geëis. Haar destydse prokureur het aan die aanklaer gesê dat hulle emosioneel ongeskik is om te getuig. Die saak is daarna teruggetrek.”

Toe die Jaco Swart-video egter vrygestel is, het die privaatvervolgingseenheid weer met die vrou vergader en sy het ingestem om met die saak voort te gaan.

Barry Bateman, die eenheid se woordvoerder, bedank die NVG dat hulle die saak weer op die rol geplaas het.

“Ons sal hierdie saak fyn dophou om te verseker dat geregtigheid geskied. Ons doen ’n beroep op slagoffers van geslagsgebaseerde geweld om te praat en ondersteuning te soek.

“Daar sal altyd iemand wees om aan jou sy te staan, soos ons eenheid wat al baie vroue in soortgelyke posisies bygestaan het,” sê Bateman.

Die man gaan weer op 16 Februarie in die Bellville-landdroshof verskyn.

Gille gehoor

In ’n ander voorval, wat op 12 Januarie plaasgevind het, moes Yollanda Fritz, Oakdale-buurtwag se ondervoorsitter en lid van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak inspring toe sy ’n vrou hoor gil.

“Fritz het ondersoek ingestel en in die rigting beweeg waar die geskreeu vandaan gekom het totdat sy by ’n huis aangekom het waar ’n man besig was om ’n vrou te slaan. Dit het voorgekom asof die man onder die invloed van alkohol was.”

Fritz het die man gekeer, die polisie gebel en intussen vasgestel dis die vrou se man wat haar geslaan het.

Sy het die vrou daarna hospitaal toe gevat, waarna die vrou ’n klag by die polisie ingedien het.

“Ons het al ’n paar (vrouemishandelings)voorvalle gehad,” sê Fritz.

Sy sê die gemeenskap help dikwels baie omdat die vroue nie die sake wil aanmeld nie en dit oorreding verg.

“Dit is hartseer, maar ons probeer hulle moed inpraat – soms werk dit, soms doen dit nie, maar ons sal nie maklik opgee nie.”

Kontak Adri Klindt van Huis Jabes by 083 564 3313 of adri@sostrust.co.za indien jy of iemand wat jy ken uit ’n verhouding van mishandeling moet ontsnap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article