Die lede van die Dorcas-groep is (agter van links) Catharine Faroo, Charmaine Wagner, Clairissa Arendse (koördineerder) en Lorna Fridini. Voor sit Ellen Arendse en Mary Carelse. Hilary Prins en Francis Chisia was afwesig met die neem van die foto.FOTO: Nielen de Klerk


Al ooit gevoel die uitdagings in Bellville-Suid raak te veel?

Daar staan ’n span vroue reg om te luister en te help. Boonop sal dit jou nie ’n sent kos vir hierdie berading nie.

Die vroue is almal lid van die organisasie Dorcas, wat vanaf die AGS-kerk by Inspanstraat 32 bedryf word.

Die vroue is egter gou om te sê: Hier word almal gehelp, maak nie saak aan watter kerk of geloof hulle verbonde is nie.

Hulle is dan self almal by verskillende kerke ingeskakel. Hulle is juis almal gelowig en die naam Dorcas kom uit die Bybel, waar ’n vrou met die naam Dorcas (of Tabitha) aan haar goeie dade geken is.

Die groep het in September 2023 die eerste keer begin om berading aan inwoners te bied. Tot op daardie stadium het die meerderheid lede deur ’n ander groep hulp aan die gemeenskap gebied, maar dié groep is ontbind en hulle wou inwoners steeds bystaan.

Clairissa Arendse, koördineerder van die groep, het die vroue begin organiseer om berading aan inwoners te bied.

Hongersnood, egskeiding

Sy sê een saak kan maklik uitbrei tot verskillende terapie-sessies omdat een persoon se probleme deur baie mense beïnvloed word. So gee hulle byvoorbeeld berading aan iemand wat deur ’n egskeiding gaan en later aan die egpaar se kinders.

Die groter meerderheid van hul sake is mense wat aan hongersnood ly. Hulle sien ook soms mense wat aan dwelms verslaaf is of familielede het wat hierdeur geaffekteer word.

Daar is ook dikwels jonger mense wat hulle kom spreek en onseker is oor wat hulle in die toekoms moet doen.

Die groep moedig enigiemand aan om ’n draai te maak en benadruk dat die diens gratis is.

Dorcas bied op Maandae van 10:00 tot 13:00 en Woensdae van 10:00 en 13:00 gratis berading aan. Hulle is by die AGS-kerk in Inspanstraat 32 geleë.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article