Op ‘n straathoek in Stellenbosch sien ek die vrou. Elke dag sit of staan sy daar om haar verestoffers te verkoop, maak nie saak wat die weersomstandighede is nie. Sy het nie eens ‘n stoel nie, dus as sy wil sit, sit sy op die sypaadjie.
Langs Stellenbosch Arterial staan ‘n ander een en smous lemoene. Geen beskutting teen die elemente nie, maar getrou staan sy daar in die hoop dat iemand gaan stilhou.
By die busstop in Hindle-weg sukkel die vrou om die vuurtjie aan die gang te kry waarop sy mielies braai om te verkoop. Tussen haar bene is ‘n kind wat onlangs ontdek het sy kan loop en wat hierdie nuwe vaardigheid vir almal wil wys. Die ma sukkel om die kind en die vuur te beheer.
Buitelanders
Wat het hierdie drie vroue in gemeen? Al drie is buitelandse vroue.
Iewers in Afrika het hulle daardie besluit geneem om hul heil nader aan die Suidpunt te kom soek. In die land van Mandela, die sogenaamde reënboognasie, wat na 1994 as hierdie ligpunt in ‘n Donker Afrika voorgehou is.
Suid-Afrika, is daar gesê, is nie soos ander lande in Afrika wat deur despote regeer word en kort na bevryding tot so ‘n mate verval het dat die volk terug verlang na die vleispotte van Egipte nie. Mzansi was hierdie fakkel van hoop vir sy mense, maar ook vir diegene van elders wat gehoop het om net ‘n stukkie van die beloofte reënboog te kon besit.
Dit is net meer as 30 jaar nadat ons verklaar het: Free at last, free at last, thank God Almighty we are free at last. Maar daardie swaar gewonne vryheid het ook aan die korruptes onder ons die vryheid gegee om te maak en breek en steel net soos hulle wil.
Ek hoef dit seker nie weer hier te herhaal nie, maar bykans alles is verwoes en dit wat nie verwoes kon word nie is gesteel en dit wat nie gesteel kon word nie is tot so ‘n mate verlam dat dit niks beteken vir die gewone man op straat nie.
Ons land is gekorrupteer tot in die hoogste gesag van die polisie, die instansie wat daar is om vir ons te veg wanneer ons nie kan nie.
Almal besmet
Aan die begin het ek die Madlanga-kommissie slaafs gevolg, maar wat daar uitkom is om van siek te word. Nie een van die top leiers in die polisie is onbesmet nie en dit is om van naar te word.
Maar wat het al hierdie dinge te doen met die drie vroue wat hulself elke dag aan die elemente blootstel om ‘n verestoffer, ‘n sakkie lemoene of ‘n mielie te verkoop?
Hulle kom uit lande in Afrika wat deur hul eie leiers bankrot gesteel is. So erg gaan dit in hul lande dat hulle in ‘n vreemde land langs ‘n pad kom staan om sommige dae net genoeg te maak om ‘n brood te koop en ander dae niks. Hulle is blootgestel aan misdaad wat ‘n gegewe is wanneer jy lank genoeg op straat in Suid-Afrika rondhang.
Suid-Afrika is nog nie daar nie, wil ek glo. Ons het nog nie die punt bereik waar die meeste mense eerder ‘n straatverkoper in ‘n ander land gaan wees eerder as om te glo dat dinge in hul eie land gaan verbeter nie.
Maar dit kan maklik gebeur as ons sluimer of slaap, veral as ons glo dat hierdie probleem nie joune of myne is nie, maar iemand anders s’n. Soos die Engelsman sê, evil flourishes when good men do nothing.
Ek glo daar is genoeg goeies daarbuite?
LEES OOK: WAT DIE HART VAN VOL IS | ‘Shine’ ook in lewe, nie net by matriekbal





