Inwoners van Wesbank het Donderdag (21 Mei) in die saal van die Laerskool Hoofweg in Wesbank bymekaar gekom in ‘n soeke na antwoorde vir die geweldgeteisterde buurt.
Ebrahim Sawant, wyksraadslid, het onder andere verteenwoordigers van die polisie en regering genooi om die geleentheid by te woon nadat vier mense in een voorval op Saterdag 16 Mei koelbloedig doodgeskiet is. ‘n Sewejarige seun wat in die voorval gewond is, veg steeds om sy lewe in die hospitaal.
Die geleentheid is begin met ‘n gedenkdiens vir die slagoffers, met familielede teenwoordig.
LEES OOK: Wesbank-inwoners soek antwoorde ná vier sterf en kind gewond is in skietery

Sawant het gesê dit is belangrik om perspektief te kry by rolspelers wat die veiligheid van inwoners moet help verseker. Hy het die sprekers gevra om die gemeenskap se trauma in gedagte te hou.
“Die vertroosting wat hulle soek kom nie net van binne hulself nie, maar ook van buite. Julle is die mense wat hierdie proses moet lei. Dit is nie meer genoeg om te sê: ‘genoeg is genoeg nie.’ Wat ons by julle wil weet is, hoe beweeg ons vorentoe om hierdie euwel wat ons samelewing verteer, uit te roei?”
Polisie
Brig. Tamsanqa Tito, stasiebevelvoerder, het gesê Mfuleni-polisie is daartoe verbind om soveel hulpbronne moontlik vir Wesbank, waar moord en pogings tot moord hoogty vier, te bekom. Hy het verseker dat 50% van enige ontplooiing van provinsiale polisie in die gebied, aan Wesbank toegewys word.
Tito het samewerking met verskillende rolspelers verwelkom. Hy het benadruk dat die polisie afhanklik is van misdaadintelligensie. Gemeenskapslede moet inligting deel sodat die polisie kan opvolg en skuldiges kan vastrek.
Brig. Mark Hartzenberg, wat ingestaan het vir die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Lt. Gen. Thembisile Patekile, het gesê die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Lt. Gen. Puleng Dimpane, het seker gemaak hy is teenwoordig omdat sy wil sien dat “ons ons uiterste bes doen om die saak op te los en toesien dat polisiëring hier in Wesbank op ‘n beter wyse plaasvind.”

Hy het gesê die weermag werk, volgens hul beskikbare hulpbronne, op rotasiebasis tussen 18 polisiekantore in bendegeteisterde gebiede. Die gehoor het luid hande geklap toe hy gesê het: “Ons het dit reggekry om ‘n daaglikse ontplooiing vir Wesbank te verseker.” Hartzenberg het gemaan dit beteken nie dat die soldate 24 uur van elke dag daar sal wees nie, maar “die polisie gaan 24 uur hier wees. Ons (die polisie) het ‘n ontplooiingsplan saamgestel vir voordurende sigbaarheid hier in Wesbank ”
Polsieëring gaan egter nie net oor sigbaarheid nie, maar ook daaroor om sake op te los. Hartzenberg het gesê die veelvuldige moordsaak wat deur die provinsiale polisie-eenheid vir ernstige geweld, ondersoek word, “is in ‘n gevorderde stadium”.
Hy het mense wat met inligting navore gekom het, bedank. “Ek wil tog vra dat ons op ‘n meer geïntegreerde basis met mekaar sal praat,” het hy gesê.
‘Pro-aktiewe inlingting’ gevra
Hartzenberg het gesê die 30 ondergrondse polisiebeamptes wat volgens nasionale polisieoperasie, ‘Lockdown III’, oor die Kaapse Vlakte heen ontplooi is, fokus daarop om meer pro-aktiewe inligting te verkry.
Dit help niemand as ons hier kom soos Saterdagaand – hier was oor die 100 ‘polieste’, maar die mense is klaar oorlede.
“Ek wil die gemeenskap vra om vir ons pro-aktiewe inligting te gee wat ons in staat sal stel om vroeër op te tree.”
As polisiekommissaris vir Kaapstad, oorsien Hartzenberg 63 polisiestasies. “Ons fokus nie net op Wesbank nie, maar al 26 stasies waar bendes is, maar ek wil u verseker u is prioriteit.” Hy het gesê hy hoop wanneer die nasionale kommissaris terugvoer van hulle vra, sy ook sal vra watter hulpbronne benodig word.
Hartzenberg het gesê hy moet implementeer wat die ‘politicians’ besluit, maar “as ons u-hulle gefaal het in ons polisiëring, wil ek vandag vir u verskoning vra; vergewe ons. Ons kan nie u familielede terugbring nie, maar ons kan probeer om die veiligheid van ander te verseker.”
Ons wil saam met u werk, werk asseblief saam met ons.
Hy het sy selfoonnommer gegee, maar gemaan niemand moet hom eerste bel nie. “Ek is nie 10111 nie, maar as brig. Tito nie beweeg nie, dan kom jy na my toe, dan maak ons dinge gebeur.”
Polisiekantoor
Anroux Marais, provinsiale minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, het gesê sy vra op elke platform vir meer hulp vir die polisie van regeringskant. “Ons weet daar is nie genoeg voertuie nie; daar is nie genoeg mense nie; daar is baie probleme wat die polisie het en hul probeer hul bes om ons gemeenskappe veilig te hou.”

Sy het genoem daar was ‘n vergadering waar die moontlikheid van ‘n nuwe Mfuleni-polisiekantoor bespreek is waar die huidige Mfuleni-polisiekantoor dan moontlik hernoem sal word na die Bluedowns-polisiekantoor, om Wesbank en omliggende gebiede direk te bedien.
“Brig. Tito het gesê dit is moeilik met ‘n sateliet (-polisiestasie).” Hande is geklap toe Marais gesê het sy sal weer met Patekile oor ‘n polisiekantoor praat, maar sy het gemaan polisiëring alleen sal nie die grootste probleme oplos nie. Sy het ook gepleit vir inligting aan die polisie “oor enigiets wat verdag lyk”. “Ek verseker julle dit is anoniem; niemand hoef te weet jy het iets kom sê nie.”
LEES OOK: The crime-riddled community of Wesbank welcomes new mobile policing unit
Marais hoop die verhouding tussen die gemeenskap en polisie sal verbeter. Haar oproep dat inwoners vir haar kan sê as hulle vermoed ‘n polisiebeampte werk saam met die bendes, het heftige reaksie ontlok: “Hoeka! Gee my jou nommer!”
Sy het versoeke vir die ontplooiing van “Leap-offisiere’ (bykomende wetstoepassingsoffisiere) in Wesbank erken, maar verwagtinge getemper. “Hierdie offisiere is ‘n magsaanvuller vir die polisie en was nooit bedoel om die polisiediens se konstitusionele mandaat te vervang nie”. Hulle het slegs ‘n ondersteunende rol vir die polisie in operasies regoor die Wes-Kaap.
“Ek wil nie sê ons gaan nie Leap officers na julle toe stuur nie. Die polisie en hul bevelvoerders is die mense wat besluit oor ontplooiing.”
Veiligheidsplan
Andrew Bateman (parlementslid) het gesê hy het die personeelplan vir die voorgestelde nuwe Mfuleni-polisiekantoor gesien het. Dit meld dat die getal polisiebeamptes van 337 tot 440 sal toeneem tussen die twee polisiekantore (Bluedowns en Mfuleni). “Dit is meer as ‘n 100 bykomende beamptes vir diesefde gebied wat tans deur Mfuleni-polisie gedek word.” Hy het onderneem om die polisiediens aanspreeklik te hou tot die plan.
Sawant het die vergadering afgesluit met ‘n versoek dat al die rolspelers moet saamwerk om ‘n veiligheidsplan vir Wesbank te ontwikkel. Hy sê ‘n werksessie sal binne die volgende twee weke plaasvind waarby die buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforum betrek gaan word.
LEES OOK: Beating the odds: Wesbank coach needs help getting drummies to nationals





You must be logged in to post a comment.