Ouers van kinders wat doof is, meen dis belangrik vir ander ouers om hul kinders se gehoor vroegtydig te toets.
Kinders wat doof is of aan gehoorverlies ly, ontvang behandeling by die Carel du Toit-sentrum in Francie van Zijl-rylaan, Parow. Die sentrum is geleë op die terrein van die Tygerberg-hospitaal. Die sentrum het vandeesweek sy nuut-opgeknapte CHAT-sentrum (Children Hear and Talk) bekendgestel. Dis hier waar babas en jong kinders behandeling ontvang en geleer word hoe om te luister en te praat, met behulp van oudioloë, terapeute en maatskaplike werkers.
Belhar-inwoner Zarndrey Zettie, pa van die tweejarige Alexia, het aan TygerBurger verduidelik watter impak dié sentrum se diens op hul dogter se lewe tot dusver gehad het. Hy en sy vrou Asmine het Donderdag 9 April tydens die bekendstelling aan ‘n sessie deelgeneem.
Alexia het meningitis opgedoen en is by die Tygerberg-hospitaal daarvoor behandel. Hier is hulle verwys na die CHAT-sentrum.
“Ek moet sê dienste wat CHAT aan ons verskaf het is goed.
“Aan die begin, tydens die berading wat ons ontvang het, wou ons dit eers nie aanvaar nie. Daar was baie mense wat iets te sê gehad het, die een het dié raad, en ‘n ander en nog raad, maar CHAT was positief en het verandering gebring aan ons kind se lewe.
“Die personeel was professioneel, die berading was goed en die diens en sessies was ook goed. Dit is ‘n groot hulp en iets positief wat hulle in die kind se lewe teweeggebring het, sy kon nie eers praat nie en sy was doof. Ek het gedog dat sy gebaretaal gaan gebruik, maar vandag sien ons ‘n verskil.”
Die baba ontvang reeds tien maande behandeling.
Klein Alexia wou ook nie loop nie, maar dit is ook aangepreek, sê Zarndrey.
“Ek is bly en baie tevrede met die diens wat ons ontvang het, die waarde van die diens ag ek hoog.”
Hy het ook raad aan ander: “Mens moet dit eers aanvaar. Ons het dit eers ontken. Ek dink baie ouers sal dit ontken. Baie mense het raad gegee, maar aanvaar dit eers en kry hulp,” sê hy.
Nog ‘n ouer, Mwandipa Mutama, se babaseun, Meldrick (2), word ook hier behandel.
Meldrick se gehoorverlies is met geboorte opgemerk. “Daar is baie vordering gemaak tydens sy behandeling en hy trek groot voorodeel daaruit,” sê die pa.
Die gesin, oorspronklik van Zimbabwe, reis al die pad vanaf Capricorn naby Muizenberg om die sessies in Parow by te woon.
Die gesin is ook opgewonde oor die bou-ontwikkeling by die sentrum. “Dis wonderlik om dit te sien, daar is baie veranderings wat aangebring is, en dit lyk asof alles op standaard is. Die diens hier is ook goed, en wanneer ons hier kom, is die personeel altyd behulpsaam.”
Die bouprojek is moontlik gemaak deur donateurs wat die Rotariërklub Bellville, Bristol Breakfast Rotary Club in die Verenigde Koninkryk, die Rotariër-stigting se toekenning, die Nasionale Lotery-kommissie, Lewis-groep en Jannie Mouton-stigting insluit.







You must be logged in to post a comment.