In Februarie het krieketliefhebbers deeglik kennis geneem van die jong krieketster Kayla Reyneke (20) van Kuilsrivier toe sy in haar heel eerste internasionale T20-wedstryd vir die senior Protea-vrouekrieketspan teen Pakistan ‘n ses van die laaste bal van die wedstryd geslaan het om die stryd in Suid-Afrika se guns te beklink.
LEES OOK: Kuilsrivier se Kayla maak droomdebuut vir Proteas
En daar doen ”Kuila se Kayla” dit toe weer.
Naelbyt-stryd
Sondag (29 Maart) het Reyneke haar debuut vir die Proteas in eendagkrieket oor 50 boulbeurte in Christchurch teen Nieu-Seeland gemaak.
Met die aanbreek van die laaste boulbeurt, met Reyneke en Tumi Sekhukhone vir die Proteas op die kolfblad, het daar nog 14 lopies vir die oorwinning gekort. Protea-aanhangers het naels gekou nadat die eerste twee balle slegs enkellopies opgelewer het. Reyneke slaan die derde bal toe vir ‘n ses, maar bal vier en vyf lewer geen lopies op nie.
Met nog ses lopies kort van die laaste bal gee Reyneke toe weer ‘n stewige wiks met die wilgerlat om die bal luglangs oor die grens te stuur. Suid-Afrika (269-8) wen die wedstryd met twee paaltjies met die Kiwi’s wat almal vroeër uit is op 268 lopies.

Kyk hier na daardie laaste hou: Krieket Suid-Afrika
Ayabonga Khaka wat kan spog met haar beste boulsyfer (6/56) nog in internasionale eendagkrieket in haar 10 boulbeurte en die kolwers Annerie Dercksen (72) en Suné Luus (53) het ook vir die Proteas uitgeblink.
Unieke prestasie: Speler van die wedstryd
Reyneke het in haar kolfbeurt 42 (nie uit nie) van 32 balle aangeteken, wat drie viere en twee sesse insluit.
Soos in haar T20-debuutwedstryd is sy weer as Speler van die wedstryd aangewys.

Volgens die Internasionale Krieketraad (ICC) is Reyneke die eerste vrouekrieketspeler wat in twee verskillende krieketformate op haar internasionale debuut as Speler van die wedstryd aangewys is. Nog net vier manlike spelers kon dit regkry—Elias Sunny (toets/ T20), Mustafizur Rahman (toets/eendag), Ben Foakes (toets/eendag) en Lungi Ngidi (toets/T20).
In ‘n onderhoud ná die wedstryd het Reyneke laat blyk sy wil net haar deel doen om wedstryde vir haar land te wen. “Ja, ek het nogal gestres”, het sy gesê, “maar ek was al voorheen in hierdie situasie.”
Wanneer daar nog ses lopies kort van die laaste bal is daar mos net een opsie en dis om ‘n ses te slaan. “Daar was geen ander paadjie om te neem nie. In druk situasies moet jy net kalm en in die oomblik bly,” het Reyneke gesê.
Die tweede wedstryd van die Protea-vroue se eendagkrieketreeks teen Nieu-Seeland is Woensdag 1 April en die laaste wedstryd is Saterdag 4 April—albei wedstryde begin om 00:00 SA-tyd.






You must be logged in to post a comment.