Onlangs bevind ek my in ‘n gesprek van ‘n klompie graad een-mammas wat vir die eerste keer hul kinders moes aflaai by die grootskool.
Dit is tydens ons jaarlikse tassie-uitdeeldag waar ons seker maak elke kind begin die jaar met alles wat nodig is vir sy of haar skooljaar.
Die gesprek is interessant.
Die een ma wonder of haar kind na haar verlang, die ander een wonder of die dag nie te lank is nie, ‘n ander is maar te dankbaar die skole het begin en so beleef elkeen maar iets anders.
Dit is eers toe ons met die graad een-groepie self gesels wat die tassies ontvang, wat ek glimlag oor hoe ver hul belewenis van hierdie dag van grootmense s’n verskil.
Oor die algemeen is dit vir hulle lekker, hulle bekommer nie eens oor die huis nie. Hulle is besig en geniet elke oomblik daarvan.
Die opwinding van skoolklere, nuwe maats, nuwe terrein en nuwe konteks kan oorweldigend wees, maar is eintlik wonderlik.
Dit is een dogtertjie, haasbek en skaars ‘n baksteen hoog wat my hart aangryp as ek vir haar vra hoe haar dag sover is.
Haar antwoord is eenvoudig, mooi, opreg en sonder aansit. Dit is vir haar baie lekker, baie maklik, maar belangrikste is sy moet die hele tyd onthou om ‘n voorbeeld te wees.
En sy antwoord my: Oom, ek kry dit reg. Ek is ‘n voorbeeld. Ek vra haar of het Mamma gesê jy moet ‘n voorbeeld wees?
Nee, ouma het, mamma is dood. Ouma het gesê ek moet wys ek is mamma se kind. Ek moet altyd ‘n voorbeeld wees.
Ouma kon nie ‘n tassie bekostig nie, daarom het sy een gekry vandag. En kom dankie sê, want sy is ‘n voorbeeld.
En gemors opgetel, want sy is ‘n voorbeeld.
En ‘n maatjie gehelp, want sy is ‘n voorbeeld.
Haar motivering is reg. Sy motiveer my.
Ons kan by haar leer – wees vandag ‘n voorbeeld.
Wees elke dag ‘n voorbeeld vir iemand.



