TygerBurger

Tweede vrou in minder as tien dae in Bonteheuwel doodgesteek

Louis van Sensie is doodgesteek terwyl sy 'n geveg tussen haar man en haar beweerde moordenaar wou keer.
Louis van Sensie is doodgesteek terwyl sy ‘n geveg tussen haar man en haar beweerde moordenaar wou keer.

KAAPSTAD – ‘n Tweede vrou is binne die bestek van 10 dae in Bonteheuwel met ‘n mes doodgesteek.

Louise van Sensie is vroeg Sondagoggend in Loganberry-straat doodgesteek toe sy probeer het om ‘n bakleiery tussen haar man en die verdagte, wat aan hulle bekend was, te keer. Die verdagte het na bewering saam met iemand anders by Van Sensie se huis opgedaag op soek na ‘n vriend, maar toe hy in kennis gestel is dat dié vriend slaap, het hy aggressief geraak en die man met ‘n mes aangeval. Van Sensie is raakgesteek toe sy probeer het om die bakleiery te stop.

Voorval bevestig

Kapt. F.C. van Wyk van die plaaslike polisie het die voorval bevestig en verklaar dat ‘n 25-jarige verdagte in hegtenis geneem is. “Die Bishop Lavis-polisie het die afgelope Sondag (8 Februarie) ‘n misdaadtoneel in Loganberry-straat omstreeks 12:30 besoek, waar ‘n 58-jarige vrou gesteek is.

Volgens gerugte het die verdagte die oorledene se huis aangedoen op soek na ‘n vriend. Haar man het die verdagte ingelig dat die vriend slaap en dat hy hom nie gaan wakker maak nie. Die verdagte het ‘n mes uitgehaal om die man te steek en die man het homself ook met ‘n mes bewapen en die verdagte aangeval. Die oorledene is tydens die geveg, terwyl sy probeer het om dit stop te sit, in die skouer gesteek. Die verdagte en die slagoffer is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem, waar die slagoffer met haar aankoms dood verklaar is,” sê Van Wyk.

Die verdagte word onder polisiebewaking verpleeg.

Bekende bendelid

Die plaaslike raadslid Angus McKenzie sê die verdagte is ‘n bekende bendelid wat in dieselfde straat as Van Sensie woon. “Ons gaan borgtog teenstaan. Enige aanval op ‘n vrou – ongeag wat die omstandighede is – moet met die volle mag van die wet hanteer word. Geweld teen vroue is ‘n pandemie in ons gemeenskap en mag nie verdra word nie.”

McKenzie het ook sy innige meegevoel met Van Sensie se familie uitgespreek. “Ons harte gaan uit na haar familie. Ons sal saam met hulle staan en hulle deur hierdie pynvolle en moeilike tyd ondersteun. Dit is nadat ons verlede week ook Shireena Birch deur geslagsgeweld verloor het, onaanvaarbaar dat ons gemeenskap weer oor ‘n vrou moet rou. Dit kan nie normaal wees nie en kan nie aanvaar word nie,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article