Twee verdagtes is in hegtenis geneem ná die dood van ‘n 13-jarige seun van Warrenvale in Warrenton. Temarion Christians se liggaam is Saterdag 28 Februarie omstreeks 14:25 in sy ouerhuis ontdek. Hy is vermoedelik deur inbrekers verwurg nadat hy onwetend die huis binnegegaan het terwyl hulle besig was om dit te beroof.
Volgens polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Thabo Litabe, het die polisie daarin geslaag om dié gesteelde goedere terug te vind en die verdagtes, twee mans van onderskeidelik 23 en 27 jaar oud, op Woensdag in Warrenton in hegtenis te neem. Hulle word van moord, asook huisroof, aangekla.

Litabe sê ‘n lykskouing om die oorsaak van Temarion se dood te bepaal, is uitgevoer. Die uitslag en resultate is hangende en sal deel van die ondersoek vorm.
Die Noord-Kaapse polisiekommissaris, luitenant-generaal Koliswa Otola, het lede van die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad, die provinsiale opsporingspan en lede van misdaadintelligensie van Jan Kempdorp vir hul deursettingsvermoë en onmiddellike reaksie geprys.
Skool hou gedenkstap
Die Warrenvale Gekombineerde Skool, waar Temarion ‘n leerling was, het Donderdag 5 Maart ‘n gedenkstap ter herinnering van Temarion vanaf die skool tot by sy ouerhuis gedoen. Alle leerders, vanaf graad R tot graad 12, het hieraan deelgeneem.
‘n Video-opname van die gedenkstap en die seremonie wat daarna gevolg het, is op die skool se Facebook-blad gedeel.
LEES OOK: Tienerseun vermoedelik vermoor ná hy inbreker in ouerhuis betrap
Vroeër het die Demokratiese Alliansie (DA) in ‘n verklaring gesê dié misdaad beklemtoon weereens die verwoestende impak van dwelmverwante misdaad in gemeenskappe. Die misbruik van middels vernietig steeds lewens, skeur families uitmekaar en dryf gewelddadige misdaad.
“Ons veroordeel hierdie sinnelose daad ten sterkste. Sy lewe het saak gemaak en sy dood mag nie tevergeefs wees nie. Ons gemeenskappe verdien veiligheid, en ons kinders verdien om sonder vrees groot te word,” sê Lisa Schickerling LP en provinsiale voorsitter.






You must be logged in to post a comment.