Christo en Christa Morrison from Glen wat in 2024 vermoor is.
Christo en Christa Morrison van Glen wat in 2024 vermoor is. FOTO: Verskaf

BLOEMFONTEIN – Die skuldigbevinding van die twee mans wat ‘n bejaarde egpaar op ‘n plaas naby Glen vermoor het, is wyd verwelkom.

Mohau William Lebeko (39) en Motlalentoa Lucas Wolf (27) is op Woensdag 10 Desember in die hooggeregshof in Bloemfontein skuldig bevind aan die moord op Christo Morrison (76) en sy vrou, Christa (73), op 10 Mei 2024.

LEES OOK: Twee wat van Glen-moord aangekla word in hof: Geld speel glo rol

Die skuldigbevinding volg op ‘n ondersoek deur sers. Jan Greef van die polisie, asook lede van die Nasionale Vervolgingsgesag – advokate Jacques Garrington en Ralie Eksteen – wat saamwerk het om suksesvolle vervolging te verseker.

Adv. Ralie Eksteen, sers. Jan Greef (middel) en adv. Jacques Garrington in die hooggeregshof in Bloemfontein. FOTO: Verskaf

Vinnige optrede deur die provinsiale eenheid vir die ondersoek van ernstige en geweldsmisdade, wat op inligting gereageer het, het na die verdagtes by ‘n gastehuis in Bloemhof gelei.

Met die inhegtenisname, was die verdagtes aan die drink en is twee selfone wat aan die slagoffers behoort het, in hul besit gevind.

Tydens die vonnisoplegging het regter Nompumelelo Gusha gesê: “Julle twee is boos en nie in staat tot rehabilitasie nie. Gedurende die verhoor het julle geen berou getoon nie. Wat ek kan doen, is om hoop van die gemeenskap in die regstelsel te herstel.”

Regter Gusha het afgesluit met verwysing na die breër kwessie van gewelddadige misdaad teen bejaardes: “Ons land het probleme met gewelddadige misdade en die mishandeling van bejaardes. Dit is ongelukkig dat die vonnis wat ek op die punt staan om julle twee op te lê, nie die lewe van mnr. Christo en mev. Christa Morrison kan terugbring nie.”

Lebeko en Wolf is albei tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis op aanklag van roof met verswarende omstandighede; lewenslange vonisse vir elk van die moorde; 15 jaar elk vir kubermisdade; en 5 jaar elk vir geldwassery.

Die provinsiale kommissaris van polisie lt.genl. Baile Motswenyane het die samewerking van die polisie wat tot die vonnisoplegging gelei het, geprys.

“Hierdie vonnis stuur ‘n ondubbelsinnige boodskap dat gewelddadige misdade, veral dié wat op ons kwesbare bejaarde burgers gemik is, met die volle mag van die wet beantwoord sal word. Die toewyding van sers. Greef, forensiese dienste en die NPA-span het geregtigheid vir die Morrison-familie verseker, en ons hoop dit bring vir hulle ‘n mate van afsluiting.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article