’n Toename in misdaadvoorvalle op plase in verskeie dele van die Vrystaat wek kommer.
’n Toename in misdaadvoorvalle op plase in verskeie dele van die Vrystaat wek kommer.

Toename in plaasaanvalle in Vrystaat wek kommer


EXCELSIOR – ‘n Toename in misdaadvoorvalle op plase in verskeie dele van die Vrystaat het Vrystaat Landbou bekommerd.

Volgens dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou, is dit die aard en omvang van die jongste voorvalle wat kommer wek. Verskeie voorvalle toon ooreenkomste in die wyse waarop dit uitgevoer word.

‘n Verdagte is verlede week in die Excelsior-gebied in hegtenis geneem nadat daar na bewering gepoog is om honde te vergiftig en ‘n Toyota-bakkie te steel.

In die Hobhouse-gebied is drie verdagtes in hegtenis geneem in verband met trekkerdiefstalle. Daar word vermoed dat die verdagtes vanuit Lesotho opereer.

Twee soortgelyke voorvalle het Maandagaand 24 Augustus gedurende die vroeë oggendure in die Tweespruit-gebied plaasgevind. Daar is na bewering gepoog om honde te vergiftig, terwyl ‘n voertuig en ‘n trekker ook geteiken is.

“Volgens inligting dui die modus operandi daarop dat dieselfde sindikaat moontlik by verskeie van die insidente betrokke kan wees,” het Buys gesê.

Volgens haar vind die voorvalle hoofsaaklik tussen 23:00 en 02:30 plaas, met gewoonlik twee tot drie verdagtes wat betrokke is.

Die jongste voorvalle vorm volgens Buys deel van ‘n misdaadpatroon wat tans in verskeie dele van die Vrystaat waargeneem word. Dit sluit onwettige jag met honde, vee- en graandiefstal, asook diefstal van koperkabels, transformators, sonkragpompe en sonpanele in.

In die Bothaville-gebied is 26 ongedokumenteerde buitelanders in hegtenis geneem nadat hulle na bewering onwettige mynbedrywighede op ‘n plaas bedryf het.

Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se landelike veiligheidskomitee, het ‘n beroep op boere en landelike gemeenskappe gedoen om hul paraatheid te verhoog.

Alle verdagte aktiwiteite en misdaadvoorvalle moet volgens hom onmiddellik aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens en plaaslike landelike veiligheidskoördineerders gerapporteer word.

Boerderygemeenskappe word aangemoedig om misdaadvoorvalle tydens maandelikse veiligheidsvergaderings aan te meld en saam met die polisiediens plaaslike misdaadvoorkomingsaksies en operasies te versoek.

Alle misdaadvoorvalle moet ook aan Vrystaat Landbou se verteenwoordigers deurgegee word sodat dit met die betrokke distriks- en provinsiale strukture opgevolg kan word.

“Die jongste insidente beklemtoon weereens die belangrikheid van samewerking, kommunikasie en gemeenskapsbetrokkenheid in die voorkoming en bekamping van plaasaanvalle en ander misdade op plase,” het Le Roux gesê.

“Boere en landelike gemeenskappe moet paraat wees, maar moet ook verseker dat alle insidente aangemeld word sodat tendense geïdentifiseer en geteikende misdaadvoorkomingsaksies ingestel kan word.”

Vrystaat Landbou se jaarlikse gholfdag word op 18 September by die Ladybrand Sportklub gehou om geld vir veiligheidsopleiding en -inisiatiewe in landelike gemeenskappe in te samel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article