Met Kersfees oor net twee weke het desperate Strandse toelaagontvangers voor die Strand-stadsaal bymekaargekom en geweier om te beweeg totdat amptenare van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (Sassa) sommige se ses maande lange wag vir hulp beëindig.
“Ons kom die afgelope paar weke hierheen vir ons maatskaplike gestremdheidstoelaag,” het Barbara Pietersen Woensdag 26 November op die trappe van die stadsaal gesê.
“Daar word elke keer met ons meegedeel dat hulle ons nie weens ‘n gebrek aan personeel nie help nie.”
Pietersen het vertel dat van die begunstigdes wat elke week in die lang lyne staan, datums ontvang om bygestaan te word. Hulle is ook meegedeel sy sou ‘n oproep van Sassa ontvang wanneer hulle moes kom, maar wanneer hul by die stadsaal aankom, word hulle toegang geweier.
“Sommige van ons loop hierheen, maar elke keer word ons weggewys,” het Pietersen gesê.
Sy het verduidelik dat geld van die toelaes na hul kinders en kleinkinders gaan. “Ons kan as gevolg van ons gestremdhede nie werk nie, dus het ons daardie geld nodig om kos op die tafel te sit,” het Pietersen gesê.

Marian Arnold het gesê haar stryd het in Junie begin, maar het dieselfde struikelblokke as Pietersen ervaar. “Hulle bly sê hulle het min personeel,” het Arnold gesê.
Sy kom in die vroeë oggendure al by die stadsaal aan – net om weggewys te word, wat haar desperaatheid vir hulp om in lyn met Sassa-prosesse te bly, beklemtoon.
“Hulle het gesê ons mediese verslae verval binne ses maande. Dit is reg, maar is dit regverdig teenoor ons om skuld te moet aangaan om vir ons afsprake hierheen te kom?”
Shivani Wahab, ‘n woordvoerder vir Sassa in die Wes-Kaap, het op die swak diensleweringsbewerings gereageer deur te sê Sassa Eersterivier en sy gekoppelde dienspunte, waarvan die Strand-stadsaal deel is, het ‘n afspraakstelsel.
“Die begunstigdes wat op die dag bygestaan is, het vroeër ‘n afspraak ontvang om die perseel op die spesifieke dag te besoek,” het Wahab gesê.
“Diegene wat die persele sonder afsprake besoek, sal afsprake ontvang om diensleweringskontinuïteit te verseker.”
Sy het verder verduidelik dat diegene wat om gestremdheidstoelaes aansoek doen, vir ‘n afspraak sal moet wag aangesien die boeke vir die jaar gesluit is.
“Hierdie persone wat aansoek doen sal in die nuwe jaar moet terugkeer sodat die mediese assessering voltooi kan word,” het sy gesê.
Wahab het verduidelik dat Arnold se situasie meer kompleks is en glo verdere ondersoek sal benodig. Sy het bygevoeg die Strand-dienspunt is vier dae per week – van Maandag tot Donderdag – oop.
Elke soort toelae word spesifieke dae toegeken, met gestremdheidstoelaes wat op twee dae van die week geprioritiseer word. Maandae is vir oumenstoelaes; Donderdae vir kinderonderhoudstoelaes en Dinsdae en Woensdae vir gestremdheidstoelaes.
“Die dienspunt het die afgelope Donderdag (4 Desember) gesluit en heropen in die nuwe jaar. Die datums sal deur die Stad Kaapstad vir 2026 bevestig word,” het sê Wahab.
Sy het beklemtoon dat die feestydperk nie die betaling van maatskaplike toelaes aan geskikte begunstigdes sal beïnvloed nie, met die laaste betalings van die jaar wat verlede week op Dinsdag vir ouermenstoelaes, Woensdag vir gestremdheidstoelaes en Donderdag vir kindertoelaes uitbetaal is.






You must be logged in to post a comment.