Die Springbok-rugbyspeler Pieter-Steph-du Toit (32) is Sondag (24 November) tydens ’n glansaand in Monaco vir ’n tweede keer as Wêreldrugby se Speler van die Jaar onder die mans aangewys.
Sy vrou, Willemien, het die trofee namens hom ontvang nadat sy vlug onderweg na die geleentheid by die Heathrow-lughawe in Londen vertraag is. Hulle was nie op dieselfde vlug nie, vertel sy broer Daniël.
Hoewel Du Toit, ’n oudleerder van die Hoërskool Swartland in Malmesbury, die fisieke oorhandiging van die trofee misgeloop het, het hy later die aand daarin geslaag om tog die geleentheid by te woon en dit saam met sy vrou en sy eweknieë in die sportwêreld te vier.
Gelukwensings deur mede-Swartlanders het kort nadat die nuus bekendgeraak het, op sosiale media ingestroom.
Du Toit het sy aanwysing as Speler van die Jaar as ’n voorreg beskryf waarop hy baie trots is, voeg sy familie by. Hy is in 2019 ook as Wêreldrugby se Speler van die Jaar onder die mans gekroon. Willemien se ma, Ilse van Zyl, sê die familie is net so trots op hom en dankbaar dat sy talent en harde werk raakgesien is. Dit was vir Willemien hartseer dat hy nie betyds kon wees om die toekenning self te ontvang nie, maar het dit as ’n groot voorreg beskou om die trofee namens hom op ’n wêreldverhoog in ontvangs te neem, voeg sy by.





