Die kapteins van die 24 rugbyspanne wat op 30 November aan die OK Mamre-7’s-toernooi sal deelneem, saam met Usen Jacobs (stigter van die toernooi), Peter De Villiers (Oud-Springbok-afrigter) en Allister Lightburn (subraad-1-voorsitter). Foto: David Rossouw


Die derde OK Mamre-gemeenskaps-7’s-toernooi is op 23 November by die Mamre Primêre skoolsaal bekendgestel.

Usen Jacobs se droom om die dorp se mense byeen te bring, het vier jaar gelede vorm aangeneem toe hy vorendag gekom het met die idee van ’n 7’s-rugbytoernooi.

Jacobs het deur sy liefde vir sport die dorp se twee rugbyklubs, Hamlets en Mamre, en plaaslike sakeondernemings bymekaargebring deur met mekaar idees uit te ruil oor ’n moontlike 7’s-rugbytoernooi vir die dorp. Sy idees het ook die klubs geïnspireer en ’n jaar later is die OK Mamre-gemeenskaps-7’s-toernooi gebore en wat eens net ’n droom was, het ’n werklikheid geword.

Die spesiale geleentheid is deur verskeie hooggeplaastes bygewoon, onder wie die raadslid Allister Lightburn van wyk 29 en die subraad-1 voorsitter; Pieter De Villiers, die oud-Springbok rugbyafrigter; Hilton Adonis (sleutelspreker) en Stad Kaapstad-personeel.

De Villiers het gefokus op leierskap, iets waarmee hy glo elke mens gebore word, maar nie altyd uitoefen nie. Volgens De Villiers is een van die redes waarom mense nie uitstaan nie, omdat hulle bang is hulle maak foute. “Daarom verkies baie om eerder in groepe te werk wat hom dan nie as ’n mislukking sal uitwys as hy alleen is nie. Leiers is daar om toekomstige leiers op te lei sodat hulle beter leiers kan word,” het hy gesê.

Adonis het by De Villiers aangesluit en verwys na die identiteit van hoe die ideale klub in die publiek se oog lyk en die verskil wat hulle in die gemeenskap maak. “Neem introspeksie van hoe jy vir ander lyk en of jy ’n positiewe boodskap of vertoning aan die publiek uitbeeld.” Adonis het afgesluit deur te vra dat ander se menings respekteer en aanvaar moet word.

Die bekendstelling is afgesluit deur Jacobs wat al die rolspelers vir hul deelname en ondersteuning aan die OK Mamre-gemeenskap-7s bedank het en almal sukses toegewens het met die toernooi.

Die Swartland gaan goed verteenwoordig word deur Darling, Moorreesburg, Piketberg en Wesbank wat hoop om die verdedigende kampioen, St. George, op 30 November te onttroon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article