Dwelmverwante misdade is onlangs kaalvuis deur lede van Malmesbury-polisiestasie getakel namate dwelmhandel onder inwoners in die plaaslike gemeenskappe voortsleep.
Polisiebeamptes se pogings was ’n hele paar keer suksesvol, waaronder twee verdagtes wat vir dwelmhandel betrap en in hegtenis geneem is.
Die verdagtes van onderskeidelik 52 en 63 jaar is verlede Maandag (29 Julie) omstreeks 12:10 weens dwelmhandel in hegtenis geneem.
Beamptes het kort voor hul inhegtenisneming inligting van ’n verdagte voertuig, wat moontlik in die onwettige handel van dwelms betrokke is, ontvang.
Die voertuig is in Piketbergweg gesien en polisiebeamptes het dit voorgekeer.
Altesaam 400 mandrax-tablette is in die voertuig aangetref waarna die polisie daarop beslag gelê het.
Die bestuurder en sy passasier is saam op aanklag vir die besit van onwettige dwelmmiddels in hegtenis geneem.
Die verdagtes het op 30 Julie in die landdroshof in Malmesbury verskyn.




