Britse leerders van verskeie skole uit die Verenigde Koninkryk het vroeër vanjaar die Goedgedacht Trust buite Malmesbury besoek.


Talle Engelse leerders van verskeie skole uit die Verenigde Koninkryk het vroeër vanjaar die sentrums van Goedgedacht Trust in die Swartland kom besoek, waar die fokus op hoofsaaklik plaaslike sport- en gemeenskapsontwikkeling geval het.

Leerders van die Francis Holland-skool in Londen het die Goedgedacht-sentrum buite Malmesbury reeds vroeg in April kom besoek.

Die ander besoeke het onder meer leerders van die Antrim Grammer School, die Queen’s College en Pates Grammar vir meisies en seuns ingesluit.

Die laaste besoek was deur die leerders van Kings High School in Warwick, wat verlede week (Dinsdag 23 Julie) gegroet het.

Dié skooluitstappies word deur verskeie toeroperateurs in die buiteland beplan om juis die toergroepe aan te moedig om liefdadigheidsorganisasies gedurende hul besoeke te ondersteun.

Volgens die Goedgedacht Trust, ’n organisasie sonder winsbejag, word geleenthede juis gebied sodat die leerders kan terugploeg in die plaaslike gemeenskappe van die bestemmings wat hulle besoek.

“Die besoeke gee nie net die geleentheid om ontwikkelende lande te sien nie, maar bied ’n geleentheid om daadwerklik ’n invloed op die lewe van minderbevoorregte landelike gemeenskappe in die Swartland-streek te hê en veral vir diegene wat van die Goedgedacht-programme gebruik maak.”

Volgens Deon Snyman, die besturende direkteur van die trust, laat die besoeke dalk eerder ’n groter indruk op die lewe van die leerders en onderwysers van die Verenigde Koninkryk as op die mense van Goedgedacht en Suid-Afrika.

“Hopelik het dit ’n lewenslange uitwerking op hul denke. Ons hoop dat hulle ’n regverdige wêreld daar buite sal voorstel waar hulpbronne gedeel kan word.”

Verskeie aktiwiteite is gedurende hul besoek vir plaaslike leerders by die Goedgedacht-sentrums buite Malmesbury en in Riebeek-Kasteel aangebied.

Hul gaste het selfs die geleentheid gekry om meer oor die olyfoes en landbou te leer.

Die sentrums is ook baie dankbaar vir splinternuwe sporttoerusting, skoene en sanitêre produkte.

Goedgedacht Trust is opgewonde om later vanjaar nog ’n besoek van ’n skool uit Engeland te ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article