Die gewilde kykNET- Buite-ekspo vind van 24 tot 26 Maart by die Môreson-plaas buite Malmesbury plaas.


Die kykNET- Buite-ekspo Wes-Kaap word eersdaags – van 24 tot 26 Maart – weer by Môreson-plaas net buite Malmesbury gehou.

Die ekspo beloof weer om soos altyd iets vir almal te bied. Die fokus is soos altyd op die talle buitelewe-uitstallers wat van die nuutste produkte tans in die buitelewe- kampeer- en 4×4-mark beskikbaar het.

Die geleentheid word in ’n veilige plaasatmosfeer aangebied en alle uitstallings word aangebied soos wat dit werklik deur die koper gebruik word.

Verskeie aktiwiteite word weer as deel van die ekspo aangebied. Hierdie jaar is Action Ford Malmesbury weer aan boord met die splinternuwe Ford Raptor-ervaring en ook Maniac 4×4, waar die publiek gratis met ervare bestuurders kan saamry om te ervaar waartoe hierdie ongelooflike voertuie in staat is.

Kom ervaar ook die gewilde helikopterritte en bekyk die Swartland uit die lug. ’n Lekker braai/pot-kompetisie word weer aangebied saam met Jimmy’s Sauces en kykNET-akteurs, en moenie vergeet van die skou se Hankook-kunstenaars wat gaan optree nie, onder wie Irene-Louise van Wyk, West, Tasché, Desmond Wells, Johan Liebenberg, Wynand Windpomp, Dewald Dippenaar, Chereé, Rooies, Sone Joubert, Rooiwyn Profeet, Nicky de Kock en Riaan Grobler, wat ook die seremoniemeester vir die naweek sal wees!

Kom ry gratis saam die immergewilde “Mnr 4×4”, André de Villiers van André 4×4 en aanbieder van Safari 4×4 Roetes op kykNET. Hierdie ervaring is iets wat nie gemis moet word nie, en hierdie jaar sal André die publiek op ritte in verskillende fabrikate voertuie op die kykNET-baan saam met kykNET-sepie-akteurs neem.

Nog iets nuut vanjaar is pret-rofstoeivertonings deur Mother City Wrestling, wat beloof om tonne vermaak te verskaf.

Oudergewoonte sal besoekers nie teleurgestel wees met die “vloeibare verversings” nie en dit beloof om weer uit die boonste rakke te wees en waarvoor ’n groot verskeidenheid beskikbaar sal wees – enigiets van ’n verskeidenheid wyne in die Swartland Kelders-wyntuin (met heerlike kos wat hierby pas) tot bier by die Castle Light-biertuin, asook jou gunstelingdrankies. ’n Groot verskeidenheid kosverskaffers sal ook daar wees, en wie kan nou nee sê vir lekker feeskos?

Vir die skoner geslag sal daar ’n kuns- en snuffelmark wees waar ’n groot verskeidenheid gehalteprodukte te koop sal wees.

Die organiseerders sê hulle het nie vergeet van die kinders nie en ’n lekker groot pretpark is vir hulle ingerig. Lollos verras weer die Sondagoggend met Skattejag, een van hul treffervertonings.

Hoewel baie aktiwiteite aangebied word, bly die fokus natuurlik op die topklas-buitelewe-produkuitstallings.

Beperkte kampering is op die terrein beskikbaar – stuur ’n e-pos-navraag na admin@ moresonmalmesbury.co.za.

Die puik “glamping”-tente kan bespreek word by ryno@you2camp.com.

Dagbesoekerkaartjies is beskikbaar deur TicketPro by ekspo.co.za en ook by die hekke gedurende die ekspo. Besoekers word aangemoedig om aanlyn kaartjies te koop deur TicketPro indien moontlik, om dinge by die hekke vir almal te vergemaklik. Dagbesoekerpryse is baie mededingend en wissel tussen R25 vir kinders tot R100 vir volwassenes, afhangend van die dag.

Besoek gerus die webwerf by www.ekspo.co.za of rig navrae aan Tersia by accounts@ekspo.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article