Twee inwoners van Ilingelethu is onlangs in ’n vermeende boendoehof-voorval dood.
Die Malmesbury-polisie is verlede Maandag omstreeks 21:00 deur inwoners ingelig dat twee lede van die gemeenskap deur inwoners aangerand word.
Met die polisielede se aankoms in Alfastraat, was die twee slagoffers deur sowat 150 inwoners van die gemeenskap omsingel. Volgens sommige gemeenskapslede het die slagoffers glo vroeër die aand ’n 12-jarige meisie probeer verkrag.
Die polisie, wat probeer het om die gebeure tot bedaring te bring, is met klippe bestook. Die slagoffers, twee Malawiërs, is ná die aanranding na die Swartland-hospitaal geneem, waar hulle kort daarna aan hul wonde beswyk het.
’n 38-jarige man is as een van die aanvallers geïdentifiseer. Hy het verlede week in die Malmesbury-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Nog inhegtenisnemings word verwag.


