Vier verdagtes is ná die sinnelose moorde op plaaslike inwoners in hegtenis geneem.

Die verdagtes is weens die moorde op twee jong mans van Wesbank aangekeer.

Die moord op Alfredo April (37), ’n gewilde inwoner en bekende haarkapper, het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur (“Twee in hof ná netbalspeler se dood, Swartland Gazette, 3 Julie 2023). Die voorval het Donderdag 29 Junie omstreeks 02:30 in Alfastraat naby die kanaal plaasgevind en ’n 27-jarige en ’n 32-jarige verdagte is kort daarna weens dié moord in hegtenis geneem. Die verdagtes het verlede Maandag in die plaaslike landdroshof in Malmesbury op aanklag van moord verskyn en word aangehou.

Die moontlikheid dat nog verdagtes by die moord betrokke kan wees, word in hierdie stadium nie uitgesluit nie. Die ondersoek duur voort.

In nog ’n voorval is die 17-jarige Kurtlin Swarts verlede naweek gewelddadig aangerand en twee keer met ’n mes gesteek. Die voorval het Saterdag 1 Julie omstreeks 22:30 in Akasialaan plaasgevind, waartydens twee verdagtes by die aanval betrokke was. Swarts het weens sy beserings aan sy wonde beswyk.

Twee verdagtes – al twee 17 jaar oud – is kort ná die voorval weens Swarts se dood in hegtenis geneem.

Hulle het Maandag in die plaaslike landdroshof in Malmesbury op aanklag van moord verskyn. Nie een van hulle is op borgtog vrygelaat nie en is volgens sers. Henry du Randt, ’n woordvoerder van die plaaslike polisie in Malmesbury, steeds in aanhouding. Die polisie het die spoedige inhegtenisnemings van die verdagtes betrokke by die moorde geloof en beloof om nou met die Nasionale Vervolgingsgesag saam te werk om seker te maak dat borgtog nie toegestaan word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article