Die “Rooikop-suster” van Happy Valley-kliniek, sr. Riana Sass, doen haar deel om TB te beëindig.

Met TB-bewusmakingsmaand (Maart), wat nou tot ’n einde gekom het, is die vraag of jy ook jou deel doen om die TB-kiem in die kiem te smoor.

“TB kan genees word, maar ongelukkig besef baie mense dit nie. Dit is een van die hoofoorsake van sterftes,” sê Sass. “Soms voel ek moedeloos, maar dan dink ek aan die volgende slagoffer – die kind of die oupa of ouma wat geraak word wanneer iemand nie behandeling vir TB ontvang nie. Dit motiveer my. Jy moet ook aan die mense om jou dink.”

Sass fokus die afgelope ses jaar op ondersteuning aan mense met TB en sy is trots daarop dat pasiënte wat na haar toe kom, vinnig hulp kry. Dis amper soos ’n “indraf-kafee”, verduidelik sy, want pasiënte wat haar kom sien, beweeg vinnig in en uit.

Die Langeberg het op die oomblik meer as 1 500 mense by wie TB gediagnoseer is. Sass is een van ’n span in die Bonnievale-omgewing wat met pasiënte werk om TB te keer. Wanneer mense na klinieke van die Wes-Kaapse gesondheidsafdeling gaan, vra personeel die besoeker of hy of sy simptome het soos ’n aanhoudende hoes. As dit nodig is, word die pasiënt vir TB getoets. Die uitslae is binne twee dae beskikbaar en as dit positief is, begin behandeling. ’n Berader ondersteun die pasiënt om TB te verstaan en waarom dit so belangrik is om medikasie getrou te neem.

Met die hulp van gemeenskapsgesondheidswerkers, bepaal personeel of ander mense in die huishouding ook dalk TB het en voorkomende medikasie nodig het.

Mense in die TB-pasiënt se huishouding word ook oor TB ingelig, soos om vensters en deure oop te hou en in ’n gebuigde arm te hoes, wat TB-verspreiding kan voorkom. Die TB-pasiënt moet die eerste twee weke nadat hy of sy positief getoets is, ’n masker dra.

“Baie mense huil as hulle hoor hulle het TB of dat hul kinders TB het,” sê Sass. “Volwassenes besef nie dat dit veral kinders is wat sal ly as hulle (volwassenes) nie hul TB-medikasie drink nie.

“Skielik moet die pasiënt elke dag medisyne drink. Ons help pasiënte hiermee. Ons vra dat hulle vir die eerste twee weke na die kliniek kom vir medisyne en ondersteuning. Wanneer die pasiënt in die nuwe roetine is, kan hulle die medikasie tuis neem. Daarna kom die pasiënt gereeld vir opvolgbesoeke dat ons sy of haar gesondheid kan monitor. Dis lekker om te sien hoe mense herstel.”

Sy moedig mense aan wat selfs net een TB-simptoom het, om kliniek toe te gaan.

Simptome van TB sluit in ’n aanhoudende hoes, as jy bloed uitspoeg wanneer jy hoes, snags erg sweet, onbeplande gewigsverlies, erge moegheid en pyn op die bors. “Soms hou mense te vroeg op om hul medikasie te gebruik – party voel ná twee weke beter en stop dan. Maar ons vra dat jy asseblief terugkom dat ons weer jou behandeling kan begin. TB is geneesbaar, maar die pasiënt se herstel hang van hulself af.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article