Cor Cronje, sedert die 1970’s ‘n inwoner van Malmesbury en ‘n bekende gesig agter die lens van sy kamera, is Woensdag 2 Julie in die ouderdom van 77 jaar in die Mediclinic Cape Gate oorlede.
Hy is Maandag 30 Junie in die hospitaal opgeneem nadat hy by sy huis geval en ‘n kopbesering opgedoen het. Hy het twee operasies ondergaan voordat hy in ‘n koma verval het. Hy is kort daarna dood.
Dié skoknuus het soos ‘n veldbrand deur die streek versprei.
Cronje, gebore in Hermanus as die tweede jongste van 10 kinders, was alombekend as die vriendelike fotograaf van die Swartland wat sedert die gemeenskapskoerant die Swartland en Weskus Herald se dae byna by alle nuusgebeure, skoolbyeenkomste en ongeluks- tonele teenwoordig was. Hy was ook ‘n bekroonde trou- en geleentheidsfotograaf.
Cronje het ook goeie herinneringe as tegnikus by Telkom, waar hy 32 jaar in Malmesbury gewerk het, en graag staaltjies van sy tyd by die destydse kommunikasiereus gedeel. Dit sluit ‘n paar noue ontkominge en elektriese skokke in.
ALOMBEKEND
Hy het sy eerste kamera gekoop nadat hy ‘n afleggingspakket aanvaar en saam met sy broer begin foto’s neem het.
Cronje was tot ná die Covid-19-pandemie nog as fotograaf by gemeenskapsnuus betrokke en het ná die Herald se naams- verandering onder meer by Die Tempo, Swartland Monitor, Swartland Gazette, Die Courant en Swartland Joernaal gewerk.
Izélle Fouché, redakteur van die Joernaal, sê hy het altyd die positiewe raakgesien, geglimlag en ‘n grappie gehad om te vertel. “Die glinster in sy oë as hy iets ondeund aangevang het, sal ek nooit vergeet nie. Ek kan my nie ‘n Malmesbury indink waar hy nie langs ‘n rugbyveld staan of sy oggendstappie neem nie. Sy ‘hallo my ou girl’ as ek hom gebel het, sal ek baie mis. Hy was ‘n rots, ‘n steunpilaar en ‘n inspirasie.”
Nóg ‘n oud-kollega, Sarie Nell, is dit eens dat sy humor, omgee, vermoë om ‘n situasie deur die lens vas te vang en lesers só te laat deel in dit wat in die Swartland gebeur, ‘n konstante was.
“Soms was hy nie lus vir nóg ‘n swem- of atletiekbyeenkoms in die hitte nie, en wie sou ons dan steeds jaar ná jaar langs dieselfde swembad en atletiekbaan aantref – dieselfde gentleman, kamera in die hand, glimlag op die lippe, reg met nog ‘n grappie, nog ‘n kamma-nabootsing van iemand wat ons ken.”
GESINSMAN
Cronje het sy vrou, Susan, op ‘n blinde afspraak ontmoet. Hulle het in 1974 die knoop deurgehaak en verlede jaar hul 50ste huweliksherdenking gevier.
Sy skryf: “Bokkie, jou Poppie gaan jou baie mis. Ons was 51 jaar gelukkig getroud. Ek sal altyd jou sagte omgeehart onthou en dat jy altyd as ‘n steunpilaar daar was vir ons gesin. My hart is leeg. Die huis is stil sonder jou. Ek huil oor alles wat ons gister saam gedoen en bereik het, wat ons elke dag beleef het en wat ons môre nie meer saam kan doen nie. Jy was ‘n wonderlike man vir my.”
Sy vier kinders onthou hom as ‘n ferm pa met streng reëls, maar een met ‘n sagte hart. “Hy het ons geleer om hard te werk en op ons eie voete te staan. Hy het ons deur sy voorbeeld gelei om lief te wees vir die Here,” vertel sy dogter Burnese Jooste.
Hulle onthou ook sy grappies en hoe hy graag hul siele uitgetrek het. Sy kinders beskryf hom as ‘n trotse man wat hulle geleer het om nederig te bly en dit wat hulle het, te waardeer, hard te werk en altyd hul beste te gee.
“Dad, Papsie, ons pappa: Hoe sê ons dankie vir alles wat jy ons geleer en [vir ons] gedoen het? Pa het ons geleer om georganiseerd te lewe, om lief te wees vir kamp en om kos, goeie koffie en rooiwyn te kan geniet. Dankie dat ons altyd by Vredestraat 4 in ons huis veilig kon voel, want Pappa was altyd daar.”
‘BESTE OUPA OOIT’
Cronje was ook ‘n terggees onder sy vyf kleinkinders. Hul oupa was natuurlik gereed met sy kamera langs die sportveld waar spesiale herinneringe vasgevang was.
“Hy het graag sweetie pies uitgedeel en die swembad was altyd gereed vir wanneer die kleinkinders op ‘n warm dag kom kuier. Danksy Oupa se liefde vir roomys het ons ook almal ‘n skeppie ná ete gekry,” voeg hulle by.
“Oupa was vir ons die beste oupa ooit. Jy was liefdevol, gaaf en altyd vol grappies. Dankie vir al die geselsies om die kampvuur, die ‘dippies’ in Yzerfontein se yskoue see en die skelm roomyse op pad terug. Dankie dat oupa altyd daar was, reg met jou kamera om almal, maar eintlik jou kleinkinders, in aksie af te neem.
“Ons is baie lief vir Oupie en mis jou al klaar.”
- Cronje se gedenkdiens word Saterdag 12 Julie om 11:00 by die NG Moedergemeente in Malmesbury gehou.





