Jacques Treadway, Score se bestuurder, ontvang die toekenning namens die plaaslike sportsentrum.

Die Swartland-gemeenskapsportsentrum, beter bekend as Score, het die afgelope naweek op vanjaar se provinsiale sporttoekenningsgeleentheid met die louere weggestap.

Die sentrum is weer eens vir sy uitstaande bydrae tot sport en ontspanning erken en het met trots die Recreation Body of the Year-toekenning op die geleentheid ontvang.

Die seremonie, wat die afgelope Saterdag (28 Februarie) op die Nederburg-wynlandgoed in die Paarl plaasgevind het, het vooraanstaande sportorganisasies en provinsiale atlete byeengebring om uitnemendheid te vier.

Dié spoggeleentheid word jaarliks deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport aangebied.

Jacques Treadway (37), die bestuurder by die sportsentrum, het die toekenning namens die sentrum ontvang. “Die prestasie gaan nie net oor ons nie. Dit bly ‘n spanpoging.”

Volgens die sentrum behoort die prestasie aan elke spanlid van die Swartland-gemeenskapsportsentrum, wie se toewyding en harde werk steeds die gemeenskap dien en bly ophef.

“Ons dra hierdie toekenning op aan die Swartland-gemeenskap – die kinders, die jeug, hul families, asook al ons belanghebbendes en ondersteuners. Julle inspireer ons elke dag.”

Die sentrum het sy dankbaarheid teenoor die provinsiale departement, asook die Wes-Kaapse provinsiale sportfederasie uitgespreek.

“Sonder hulle sou die geleentheid nie moontlik gewees het nie. Saam bou ons aan ‘n gesonder, sterker Swartland en verander ons lewens deur sport, ontspanning en opvoeding. Die toekenning benadruk wat moontlik is wanneer almal saamwerk,” sê Treadway.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article