David Moses (57), ‘n geliefde fotograaf van Wesbank, Malmesbury, se skielike dood op Donderdag 30 September het die gemeenskap in die Swartland geskud toe dit bekend geword het dat hy oorlede is.
David, wat bekendheid verwerf het vir sy uitstekende fotografie op die sportvelde vir sportklubs, gemeenskappe en sakeondernemings in die Swartland, het diep spore getrap in die lewe van mense met wie hy in aanraking gekom het.
David se kamera’s en lense se skielike stilte is nog onwerklik en sal eers insink wanneer hy nie meer op die Wesbank-sportterrein in Alfastraat of Lelliepark in Abbotsdale sigbaar is nie.
Swartland Gazette het met die twee rugbyklubs Never Despair en Wesbank in die dorp gaan gesels om meer oor David se verbintenis met hulle uit te vind.
Vir die Wesbank-rugbyklub van Malmesbury het David oor baie jare met sy kamera, sy humor en sy unieke persoonlikheid ‘n besondere plek in hul harte ingeneem.
“David was ‘n rugbymens. Hy het jou geterg, met jou gespot, jou uitgevra en op sy eie manier en soms strategies ‘n stukkie inligting uit jou probeer kry. En as jy met hom in ‘n debat beland het, kan jy jou gereed maak jy is aan die verloor, want David het nie maklik verloor nie. Inteendeel – as hy sou verloor het, het hy waarskynlik reeds sy volgende argument beplan,” sê die Wesbank-rugbyklub.
“Sy humor, grappies en sy vermoë om enige situasie ‘n bietjie ligter te maak, was deel van wie hy was.
“David het met almal gemeng en jy kon hom van die een geleentheid na die volgende sien stap, maar sy ‘hop-stappie’ het gereeld ‘n uur langer geword – nie omdat hy stadig geloop het nie, maar omdat almal hom geken het.
“Oral was daar iemand met wie hy moes gesels, iemand wat hom wou groet, iemand wat ‘n grappie met hom wou deel.”
Hy was oral welkom
“Hy het mense geken en mense het vir hom plek gemaak en hy was welkom oral.Vir dekades het David met sy kamera langs sportvelde, by gesellighede en tussen mense gestaan. Hy het oomblikke vasgevang wat baie van ons vandag nog koester en nog vir baie jare sal koester…
Baie van die herinneringe wat vandag in mense se selfone, huise en sosiale media leef, bestaan omdat David daardie oomblik met sy lens raakgesien het,” het Wesbank-rugbyklub gesê.
Vir die Never Despair-rugbyklub was David nie net ‘n fotograaf nie, maar ook ‘n broer, ‘n vriend en ‘n spanmaat.
“Sy passie vir fotografie het hy met oorgawe en toewyding met ons en die breër gemeenskap gedeel. Deur sy kamera en lense het hy soveel kosbare oomblikke van ons spanne, ons mense en ons gemeenskap vasgevang,” het Never Despair gesê.
“Ons het nog Saterdag 26 September sy grappies en teenwoordigheid geniet terwyl hy by die Malmesbury Heritage Cup diens gedoen het – en vandag moet ons totsiens sê.
“Jou kamera is dalk stil, maar jou nalatenskap sal voortleef in die honderde pragtige sportfoto’s en herinneringe wat jy vir ons agterlaat,” het Never Despair gesê.
Herinneringe
Die boodskappe en herinneringe wat op sosiale media ingestroom het, het David se ware verhaal beter as enige huldeblyk vertel.
Beide klubs – Never Despair en Wesbank – groet nie net vir David nie, maar bedank hom vir sy onbaatsugtige fotografiestorie wat hy met baie mense en gemeenskappe gedeel het.
“Dankie dat jy oor die jare deel was van Wesbank en Never Despair se suksesstories.
“Dankie dat jy gehelp het om ons klub se name en stories buite die Swartland te verkondig met jou foto’s, vir elke gesprek, elke grappie en elke keer wat jy opgedaag het.
“Dankie dat jy ons spelers se oomblikke op kamera vasgevang het,” het die twee klubs afgesluit.
“Ons innige simpatie aan sy geliefde moeder, Nellie Howburgh, sy twee broers, sy suster, asook die breër familie, vriende en almal wat deur sy lewe aangeraak is. Jou werk, jou glimlag en jou herinneringe sal in ons gemeenskap voortleef.
“Ons innige simpatie en meegevoel aan die familie en almal wat hom liefgehad het. Vaarwel en rus sag, ou grote – ons almal in Wesbank gaan jou mis.”





