Die kleuters en skoolgaande leerders betrokke by die Calabash-jeugprogram is ‘n bewys dat Kalbaskraal nie slegs geken word aan die misdaad en bendegeweld waaronder dié plattelandse gemeenskap buite Malmesbury die afgelope paar maande deurgeloop het nie.
Michel Botha van Kalbaskraal en die stigter van dié jeugprogram brei trots uit hoe die kadetorkes (marching band) se jeugprogram in 2023 tot stand gekom het. Sy doel was van die begin af om kinders uit die strate te hou en weg te hou van drank- en dwelmmisbruik asook bendegeweld.
Die kadetorkes bestaan vandag uit ‘n ongelooflike 43 kadette tussen die ouderdomme van vyf en 18 jaar.
Die nuus dat sewe kadette uit die groep gekies is om hul provinsie eersdaags by die WP-kampioenskap in Belhar (Pentech) te gaan verteenwoordig, is onlangs aan die jeugprogram bekend gemaak.
Die kadette bestaan uit die tromspelers (drummers) Devandrey Simons (15) en Willard Slingers (14), terwyl die kadette Rudewaan Coetzee (12), Kayla Danials (13), Lolitha Daniels (14), Kaydee Hector (14) en Jadelyn Hector (12) insluit.

Botha beskryf die geleentheid as ‘n groot voorreg waarop hulle trots is. “Dit is ‘n groot week vir ons kinders. Ons kom van ‘n agtergeblewe gemeenskap met baie bendegeweld. Hierdie kinders gee ons hoop. Daar is só baie goeie dinge en mense in Kalbaskraal.”
Botha hoop die kadette se prestasie inspireer ander om nooit op te gee nie en hul drome te bly najaag.
Die kampioenskap vind op 31 Oktober by die Erika Park-stadion in Belhar plaas, voorafgegaan deur talle byeenkomste en oefenkampe wat byna elke naweek plaasgevind.
Die kampioenskap bestaan uit onder meer uniforminspeksie van die kadette, soos netheid, uniform en houding, gevolg deur marsjeer en dril waar die formasie op bevele marsjeer. By die tromme word gekyk na ritme, tydsberekening en spanwerk.
Fiksheid en dissipline is ook ‘n groot aspek van ‘n kadet- orkes, voeg Botha by.
“Dit gee ons kinders trots, selfvertroue en hou hulle weg van drank, dwelms en bendes.”
Indien inwoners of sakelui betrokke wil raak en bydra tot vervoer en uniforms, kan Botha by 066 519 9560 gekontak word.




You must be logged in to post a comment.