Die Swartland-munisipaliteit het onlangs erkenning gegee aan langdienende personeel by die munisipaliteit. Alle personeel met 25, 30, 35 en 40 jaar diens het ’n sertifikaat van erkenning ontvang vir hul toewyding, harde werk en diens aan die breër gemeenskap van die Swartland.
Die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, het die personeel bedank vir hul toewyding en getrouheid deur dikwels moeilike en uitdagende tye. Scholtz, asook die uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, het daarop gewys getroue en langdurige diens aan een werkgewer word ’n uitsondering in die moderne samelewing.
Hulle was dit eens dat personeelkontinuïteit egter belangrik is vir die stabiliteit en oordra van kennis binne enige organisasie.
Altesaam 24 personeellede het 25 jaar diens, elf personeellede het 30 jaar diens en vyf personeellede het 35 jaar diens voltooi.
Slegs twee personeellede, Hendrik Appollis en Susan Cilliers, het erkenning vir hul 40 jaar se getroue diens ontvang.
Spesiale vermelding is ook gemaak van die na-ure-personeel wat gewoonlik aan die ontvangkant is van mense se dikwels onredelike ongeduld en woede.




