Van links staan Sondri Therion (mede-eienaar), Jonathan Domingo, Marius Stevens, Willem Therion (mede-eienaar), Ivan Gouws, Geraldo Hans (diens verlaat vir internskap), Stinwill Isaacs en oom Leon Thomas (direkteur). Foto’s: Hesmarie Nel Photography


Thomas Electric in Moorreesburg vier 40 jaar van goeie herinneringe, harde werk, suksesverhale en toewyding tot hul kliënte. Die onderneming is in Augustus 1984 deur Oom Leon Thomas en sy vrou, Tannie Barbara, op die been gebring.

Tannie Barbara is in Julie vanjaar oorlede. Oom Leon was tot Mei verlede jaar aan die stuur van sake totdat die tyd vir Willem en Sondri Therion aangebreek het om die leisels by hom oor te neem. Oom Leon het destyds by Kallie Koch Elektriese Werke, wat in beheer was van MKB Silo’s, begin werk en daar en dan besef dit is die rigting waarin sy loopbaan sal vaar. Hy het met slegs Tannie Barbara, wat die administratiewe sy van sake hanteer het, een assistent en een vakleerling begin. Vandag pronk die onderneming met sowat 80 jaar se ondervinding tussen agt permanente personeellede, van wie drie hoogsgekwalifiseerde elektrisiëns is. Daarbenewens het hulle daagliks drie voertuie uit op die pad.

Hul hande staan vir niks verkeerd nie – van ’n bedlampie tot ’n ingewikkelde nywerheids- elektriese en -hoogspanningsprojek. Die onderneming se vier dekades van sukses kan vandag toegeskryf word aan jare se ervaring en toewyding tot getroue kliënte. Daar was nooit sprake van uitstel nie. Oom Leon se gereelde sê-ding was: “Dit kan nie wag nie, dit moet nou loop.”

Therion het op sy beurt in 2003 sy vakleerlingskap by Thomas Electric gedoen. Ná 20 jaar se ondervinding het hy die geleentheid met albei hande aangepak deur voort te bou op die stewige familievaste fondasie wat deur die Thomas-egpaar gevestig is. Therion is dit eens dat uitstel taboe is. Hulle sal agteroor buig om ’n kliënt te help en hulle werk graag “om die klok” om dinge te laat gebeur. By Thomas Electric word geen kliënt weggewys nie. “Ons is altyd beskikbaar vir kliënte wat ons deur die jare getrou ondersteun.”

Die onderneming se sukses kan ook grootliks toegeskryf word aan verskaffers wat hulle al vir dekades ondersteun. Personeel word ook daagliks aangemoedig om na hul persoonlike beste te streef. Oom Leon is vandag nog aktief by die onderneming betrokke. Die personeel kan nie wag om hom soggens te groet nie.

“Sy werksenergie is aansteeklik.”

Volgens die Therion-egpaar kan die jonger geslag gewis nog ’n ding of twee by hom leer. Thomas Electric lei sy personeel self op. Jare se ondervinding op verskillende vakgebiede skei hulle van die res. Die regte kennis is gewaarborg.

Volgens Therion, word nie vanuit ’n ander man se sak geleer nie. “Ons pak nie ’n projek aan as ons nie reeds weet hoe dit werk nie,” voeg hy by. Eerlike kommunikasie en goeie diens is vir hulle baie belangrik. Alle installasies en projekte word volgens die voorgeskrewe regulasies uitgevoer. Kortpaaie is nooit ’n opsie nie. En wat is die beste deel van die dag? Die oggendkoffie saam met Oom Leon, beplanning vir die dag wat voorlê en ’n bespreking oor die vorige dag se gebeure en dit wat nog moet gebeur. “Die tevredenheid van elke kliënt dra by tot die span se gemoed om môre se dagtaak weer aan te pak,” voeg die Therions met ’n blye hart by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article