Die 20ste Suidoosterfees, wat van 26 April tot 1 Mei by Kunstekaap in Kaapstad aangebied word, pronk met uitstekende produksies op die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) Musiekteater-program.
David Kramer se Ver in die wêreld, Kittie is net een van die verhoogstukke wat feesgangers gaan bekoor.
Ver in die wêreld, Kittie vertel die aangrypende verhaal van Josef en Rosa Marais se sukses as ’n gewilde volksangduo wat Amerikaners in die 1950’s met Afrikaanse liedjies wat in Engels vertaal is, verower het. Treffers soos “Sugarbush”, deur Josef uit Afrikaans vertaal, is deur Doris Day en Frankie Laine uitgevoer.
Die Marais’ het sukses in Hollywood gesmaak waar hulle met sterre soos Burt Lancaster en Humphrey Bogart uitgehang het. Maar dié treffers het hul oorsprong in die Boland gehad, en kennelik nie uit Josef se skrywerspen nie. Hy het dit as kind by sy pa se plaaswerkers, Kittie Jaftha en Koos Heuningbek, geleer. Terwyl Josef en Rosa op die kruin van die internasionale golf ry, voel Kittie verraai in die Boland.
Ver in die wêreld, Kittie is op 26 en 30 April en ook op 1 Mei in die Suidoosterfees se kykNET-teater op die planke. Rushney Ferguson, Jenny Stead, Dean Balie en André Terblanché is in die rolverdeling, en Nick Turner en Ivan Potts maak die musiek. Die stuk geniet die ondersteuning van NATi en die KKNK.
NATi bring ook Clara na die Suidoosterfees. Dié produksie, wat die eerste keer by die Hessequa Harmonie-fees in die Suid-Kaap opgevoer is, handel oor die merkwaardige lewe van die komponis en pianis Clara Schumann. Riana Scheepers het die teks geskryf en Nina Schumann en Carla Smith tree daarin op. Nina, ook ’n opvoedkundige en konsertpianis soos die einste Madame Clara, voer musiek uit deur Robert Schumann, Johannes Brahms en natuurlik Clara Schumann self.
Anna Davel en Alexa Strachan se Mixtape van die liefde put uit Antjie Krog se gelyknamige bloemlesing waarin liefdesgedigte van verskeie Afrikaanse digters opgeneem is. Davel is saam met Jana Cilliers, Mathys Roets, Christo Davids, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp op die verhoog. In dié pragproduksie word poësie en musiek kreatief vermeng om feesgangers om te dolwe, plat te trek en op te hef. Ná alles is die liefde volgens die digters aan die woord, tog maar “morsig, misterieus, en maak dit mense dikwels mallerig”.
Jana Cilliers is ook te sien in Coenie de Villiers se Woordmusiek. Antoinette Kellermann en Vinette Ebrahim sluit by haar aan om saam met die kitaar-maestro Mauritz Lotz die aangrypende narratiewe lirieke van De Villiers na nuwe dimensies te neem. Met Coenie agter die klawers gaan Woordmusiek feesgangers se asems wegslaan, soos wat die sanger-liedjieskrywer met sy onlangse vertonings saam met skrywers soos Deon Meyer bewys het.
Kabaret, een van die suiwerste vorms van musiekteater, is ook op die NATi-program. Elzabé Zietsman en die pianis Tony Bentel skitter in Bruce Little se Femme is Fatale, wat die gewigtige onderwerp van geslagsgeweld teenoor vroue bekyk. Die kabaret is onlangs vir ’n kykNET-fiësta in die kategorie beste musiekgedrewe produksie benoem. Tony Bentel waarsku mense om genoeg sneesdoekies na die vertoning saam te bring.
Produksies op die Suidoosterfees se musiekteater-program word met trots deur NATi na die fees gebring, met die ondersteuning van KKNK en Momentum Beleggings Aardklop. Moet ook nie vergeet van die wonderlike produksies in die fees se algemene musiekafdeling nie. Sien die volledige program by www.suidoosterfees.co.za. Kaartjies is by Computicket, of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695.


