Die ATKV en die Suidoosterfees het weer goeie nuus vir amateurkore wat gemeenskappe in die Wes-Kaap se harte met hul stemme verower. Inskrywings vir die jaarlikse ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie is nou oop.

Sangroepe en kore wat op plase, in kerke en plaaslike gemeenskappe bedrywig is, kan suidoosterfees.com besoek vir inskrywingsvorms. Die sluitingsdatum is 10 Maart 2025, of sodra die kapasiteit vir die aantal deelnemende kore bereik is.

Kompetisiewenners ontvang trofeë en word genooi om tydens die Suidoosterfees saam met bekende sangsterre op te tree.

Vanjaar was die volgende kore wat verskillende afdelings gewen het, op die feesverhoog saam met Emo Adams, Jodi Jantjies en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor: Porterville se Messengers of God (sanggroep), die Zolani-jeugkoor van Ashton (gemeenskapskoor) en die Bosman Adama-koor van Wellington (plaaskoor).

Finalis-kore wat uit die inskrywings gekeur word, word genooi om werksessies by te woon waar hul vaardighede deur kenners in die musiekbedryf verfyn word. Vanjaar se slypsessies is in Ceres en tydens die Adam Small-fees in Pniël aangebied.

Die ATKV en die Suidoosterfees bied die kompetisie elke jaar aan om volhoubare musiekgeletterdheid en opleiding onder amateur-kore en koorleiers te bevorder.

Johan Esterhuizen van die ATKV sê: “Die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie is ’n besonderse kompetisie en hartsprojek wat plaaskore, gemeenskapskore en kerkkore die geleentheid gee om hul talente in die wonderlike Artscape aan die breër publiek bekend te stel.”

Vir navrae en meer inligting kan Johan gekontak word by johane@atkv.org.za. Inskrywingsvorms is beskikbaar by suidoosterfees.com.

Die wenners word by die fees in Kaapstad van 30 April tot 4 Mei aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article