Vetkoek, pannekoek en tradisionele basaarpoeding was die afgelope Vrydag op die meeste inwoners se spyskaart nadat die ACVV-dienssentrum in Malmesbury se jaarlikse geldinsameling goed ondersteun is. ’n Allemintige 1 325 items is gebak, gerol, voorberei en uiteindelik verkoop nadat bestellings vooraf ingestroom het. Mareta Stodart, een van die organiseerders, het die geldinsamelingsprojek as baie suksesvol beskryf. Hoewel beurtkrag ’n demper op die dag kon plaas, het hulle gou planne beraam om seker te maak elkeen wat bestel het, ontvang hul bestelling. “Met beurtkrag die oggend moes ons ’n plan maak om vetkoeke te laat rys. Twee motors is in die son geparkeer met vetkoeke op skinkborde in elke motor asook vetkoeke in swartsakke in die son,” vertel sy. Dit was ook die eerste keer dat soveel items vooraf per bestelling verkoop is. “Die gemeenskap se reaksie was oorweldigend. Ons is so dankbaar,” voeg sy by. Die ACVV-dienssentrum beplan nou ’n verkopedag vir gebruikte goedere op 30 September en inwoners kan uitsien na verversings wat te koop sal wees. Foto: Christelle de Lange


sonvetkoeke help

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article