Nando, die vermiste Border Collie, word steeds deur die hele gemeenskap gesoek.

Soektog na geliefde Border Collie duur onverpoosd voort


Nando, die vermiste Border Collie, wat die afgelope paar weke diep in inwoners en die plaaslike gemeenskap se harte gekruip het, is steeds soek.

Volgens Karla Roux en haar man, JP, is dit vir hulle moeilik om te beskryf hoe dankbaar hulle is teenoor elkeen betrokke by hul soektog. “Ons is dankbaar vir die ongelooflike omgee, vrygewigheid en vasberadenheid van soveel mense wat help om na ons vermiste Border Collie, Nando, te bly soek. Ons wil ook opreg om verskoning vra indien die vorige artikel enigsins ‘n negatiewe indruk geskep het van die Tierfontein-boerderygemeenskap of van die mense wat ons help om Nando te vind. Ons is reg van die begin af met vriendelikheid, deernis en vrygewigheid ontvang.”

LEES OOK: Border Collie bly vlug, maar familie glo hulle sal hom terugkry

Volgens haar het mense reg oor die omgewing hul eiendomme vir hulle oopgestel en ontelbare kilometers gery en gestap op soek na Nando. Roux brei uit en vertel hoe die plaaslike gemeenskap hulle gehelp het om vanghokke op te stel, toerusting beskikbaar gestel het, hulle met ander mense in die gemeenskap in kontak gebring het en dag en nag op die uitkyk vir Nando was en steeds is. “Sommige mense het baie verder gegaan as wat ons ooit sou kon verwag, hul vrye tyd opgeoffer en selfs nagte buite deurgebring om met die soektog te help.”

Die Roux’s is net so dankbaar teenoor die spoorsnyers, hommeltuigoperateurs, dierespesialiste, gemeenskapsorganisa­sies, werkers en vrywilligers, wat hul tyd, hulpbronne en kundigheid beskikbaar gestel het. “Elkeen het ‘n waardevolle bydrae gelewer.”

“Elke kilometer wat gery is, elke veld wat deursoek is, elke hommeltuig wat die lug in gestuur is, elke boodskap wat gedeel is en elke paar oë wat steeds na hom soek, beteken vir ons meer as wat ons ooit in woorde kan uitdruk.”

Sy meen die goedhartigheid wat hier­die gemeenskap gedurende ‘n baie moei­like tyd aan hulle bewys het, het hulle diep geraak. “Ons is ongelooflik dankbaar en sal nooit wil hê dat enigiets wat voorheen geskryf is, ‘n verkeerde indruk moet skep nie.”

Die driejarige Nando is steeds vermis.

Die Roux-gesin het egter nog nie moed opgegee nie en die soektog en hul hoop gaan voort. “Dankie dat julle aanhou help om ons ‘seun’ huis toe te bring.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article