Nando, die vermiste Border Collie van die omgewing, Tierfontein, naby Malmesbury, is steeds soek, vertel sy eienaar, Karla Roux, wat saam met haar man, JP, sedert sy verdwyning alles in hul vermoë doen om hul driejarige viervoetige vriend terug te kry.
Nando, wat beskryf word as skrikkerig, maar nie aggresief nie, is op 12 September laas gesien nadat hy uit die agterkant van ‘n bakkie op die plaas Greenfields gespring het.
Hulle gebruik sedertdien ‘n toepassing, Animal Communicator, danksy ‘n mikroskyfie, ‘n hondenaspoorder en hommeltuie en durf die omgewing te voet aan met die hoop om hom te kry.
“Ons het die afgelope week die hele week lank op en af op die plaas gery – en dit is ‘n gróót plaas.” Sy voeg by hoe JP snags in die veld geslaap en gebraai het met die hoop om hom nader te lok. Hulle het ook met hul ander honde gaan stap, maar dit was te vergeefs.

“Ons laaste poging is nou ‘n hondelokval met ons klere en lekker gebraaide hoender en lewerwors,” voeg Karla by.
Nando is sowat drie dae gelede om 01:00 die oggend op ‘n nabygeleë plaas, Skaapkraal, gewaar, maar is deur die wag met ‘n trekker verjaag. “Hy het toe net gehardloop van vrees,” voeg ‘n mismoedige Karla by.
Intussen is hy weer vroeg dieselfde oggend op die Greenfields-plaas gewaar, maar was so verskrik dat hulle nie naby hom kon kom nie.
net ‘n meter weg
Hy het sy pad weer terug na Skaapkraal, langs die N7-snelweg gevind. “My man was twee keer omtrent een meter van hom af weg.” Sy is bevrees hy is al in so ‘n stadium dat hy nie eens meer op hul stemme reageer nie – nie eens op “Kom Nando, kom my seun,” nie.
Besorgde inwoners het intussen die Roux-gesin gekontak nadat hulle ‘n hond wat eenders lyk, in die rigting van Atlantis gewaar het. Iemand anders het hulle ingelig van ‘n plasing dat hy in die omgewing van Kalbaskraal gevind is. Hulle is teen dié tyd redelik skepties wanneer hulle gekontak word, omdat bedrieërs wat geld eis, hulle begin nader het. “Ons het hoeveel ‘scammers’ gehad wat AI-foto’s gestuur het en geld wou hê voordat hulle die adres gee,’ voeg Karla by.

Intussen weier die gesin, wie se een dogter gereed maak vir haar matriekafskeid, en hul ander dogter, wat binnekort oorsee vertrek, sonder om hul geliefde hond te kan groet, om op te gee op Nando. Indien enigiemand Nando gewaar of die Roux’s met ‘n infrarooi hommeltuig in hul soeke na hom kan bystaan, kan Karla by 083 301 6464 kontak.




You must be logged in to post a comment.