KragDag, die bekende doen-jou-eie-ding-selfstandigheids-ekspo, sal saam met Sakeliga as hoofborg vir twee dae ’n “kragstasie” in die Wes-Kaap, net buite Malmesbury, oprig wanneer dié ekspo die eerste keer op 17 en 18 Februarie 2023 op die bekende Môreson-plaas aangebied word.

HP Steyn, die besturende direkteur van KragDag, sê die tema vir 2023 is ‘Kom ons bou ’n kragstasie’.

“Ons glo die energie wat nodig is om die snelle pas van staatsverval die hoof te bied, lê in gemeenskapselfstandigheid opgesluit. Kragprobleme word nie opgelos deur bloot ’n kers aan te steek nie – dit word opgelos waar individue, ondernemings en gemeenskappe by mekaar kom kers opsteek om selfstandiger te leef en sake te doen.

“SakeligaKragDag is dié plek waar entrepreneurskap en tegnologie saamgevoeg word tot die grootste versameling selfstandigheidsoplossings op elke denkbare terrein.”

Piet le Roux, die uitvoerende hoof van Sakeliga, die hoofborg van KragDag, sê: “Sakeliga-KragDag is ’n kragstasie met ’n besondere (en ononderbroke) energie; energie om anders te dink oor selfstandigheid. Hier kan ’n mens praktiese planne in werking sien en belangrike treë gee na groter staatsbestandheid.

“Staatsbestande ondernemings skep staatsbestande sakegemeenskappe met die veerkragtigheid om ondanks staatsverval voorspoedige gemeenskappe op te rig en in stand te hou.“

Steyn bevestig alternatiewe kragopwekking sal ’n groot fokus by Februarie se ekspo wees. “In 2020 is 844 ure beurtkrag toegepas; in 2021 het dit tot 1 153 ure gestyg, en vanjaar het ons reeds 2 400 ure, oftewel 100 dae, beurtkrag verbygesteek. Kragoplossings is dus dringender as ooit.

“Daar sal egter ’n groot verskeidenheid selfstandigheidsoplossings vir alle lewensterreine wees. Of die uitdagings nou watertekorte, watersuiwering, voedselproduksie, onderwys of sekuriteit is, planne sal daar wees!”

Sakeliga-KragDag is sedert 2008 al 13 keer aangebied en het van enkele tot bykans 600 uitstallers en van etlike honderde tot meer as 31 000 besoekers in Augustus vanjaar gegroei. Steyn skryf die groei toe aan die groot verskeidenheid werkbare oplossings wat by die ekspo te sien is, maar ook die feestelikheid. “Daar is werklik min ekspo’s wat iets vir elkeen in die gesin bied.”

Besoek www.kragdag.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article