Katinka Heyns (links) gesels met van die gaste by die spesiale vertoning van Fiela se Kind.

Dit is ‘n besondere kuns om gehalte- Afrikaanse rolprente met ‘n dieper inslag en

terselfdertyd vir die genot van ‘n groter gehoor te

vervaardig – ‘n kuns wat

Sonneblom Films sedert die jare sewentig vervolmaak het.

Die gedugte egpaar Katinka Heyns, as aktrise en regisseur, en die ontslape Chris Barnard as draaiboekskrywer, was ‘n span wat die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf op ‘n meesterlike manier help vorm het.

Tydlose rolprente soos Die wonderwerker, Paljas, Die storie van Klara Viljee en Fiela se kind het die verbeelding aangegryp met die wyse waarop bepaalde temas uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis met ‘n fyn ondertoon van sosiale kritiek van die bepaalde tydsgees nuwe lewe gekry het. ‘n Hele paar het selfs internasionale gehore

meegevoer.

Die FAK se Kaapse kantoor het onlangs, met die herdenking van Dalene Matthee se

afsterwe 20 jaar gelede, ‘n buitelugfliekaand in Milnerton gehou en Fiela se kind vertoon. Die eregaste dié aand was

Katinka en haar seun Simon Barnard, wat die rol van die klein Benjamin Komoetie in die geliefde negentiende eeuse Knysna-bosverhaal vertolk het.

“Dit was ‘n gesellige

saamkuieraand en die gehoor het vrae gevra en soms lekker saamgelag. Tydens die

koffiepouse, terwyl hulle gewag het vir die son om te sak, het mense die geleentheid benut om in kleiner groepies met Katinka te gesels. Sy het onder andere vertel van haar destydse besoeke aan Matthee en hul besoeke aan die bos wat moes “toestemming gee” vir die maak van die rolprent,” vertel Elizma Smith, die FAK se kultuurnetwerkkoördineerder in die suide van die land.

Ná heerlike roosterkoeke vir aandete het almal hul kamp-

stoele reggeskuif vir die

vertoning van die rolprent.

Katinka het interessante

staaltjies tydens die maak van die rolprent met die gehoor gedeel, soos haar interaksie met die olifante en die samestelling van die rolverdeling. Oor Simon se rol as die klein Benjamin Komoetie in die rolprent, het Katinka gesê: “Ek het amper begin huil toe ek weer sy klein ronde boudjies gesien het.”

Dalene het met ontsag na die magiese effek van die bos en verskillende dimensies verwys.

Katinka sê dit sou besonders wees as die rolprent die vierde dimensie vasvang, “maar die vyfde dimensie sou uitsonderlik wees”.

Dalene het by die première van Fiela se kind met verwysing na die vyfde dimensie aan

Katinka gesê: “Jy het dit!”

Dalene se sentrale boodskap in die boek Fiela se kind is ook wat Katinka in die rolprent beklemtoon het. “Die Here vergewe ons baie dinge, maar Hy vergewe ons nie die onreg wat ons ‘n kind aandoen nie.”

Katinka het haar belewenis van die aand verwoord toe sy aan die einde van die rolprent verwys het na haar ervaring van ‘n besondere atmosfeer wat geheers het om die rolprent so onder die bome met liggies in die buitelug saam met almal te kyk – iets anders as ‘n groot rolprentskerm.

Katinka is tans besig om nes te skrop in Negester Onrusrivier, ‘n aftreelandgoed naby Hermanus.

Die woord “Negester” lê haar na aan die hart. Sy sê min mense weet dit, maar dié woord is ‘n sterk tema in

D.J. Opperman se gedig “Negester en Stedelig” in die bundel Negester oor Ninevé. Die gedig gaan oor sy geestelike reis as ‘n noodsaaklike komponent in die geheelbeeld van sy

geloofservaring en -oortuigings.

Simon is nou ‘n mededirekteur van Sonneblom Films, wat toesien dat die maatskappy voortleef. Hy fokus meer op dokumentêre produksies en het reeds verskeie kreatiewe

skeppings op sy kerfstok.

Hy glo sy talent kom van albei ouers af. “My pa was hermeties, met ander woorde iemand wat maar ‘n alleenmens is, met ‘n fyn waarnemingsvermoë. Ek het ook hierdie persoonlikheid geërf, maar ek stel veral belang in mense en daarom fokus my dokumentêre op interessante Afrikanerpersoonlikhede.”

Katinka speel steeds ‘n

belangrike rol in Simon se lewe. “Hoewel my ma nie meer op die stelle teenwoordig kan wees nie, vra ek nog gereeld haar raad. Sy het veral ‘n fyn aanvoeling vir bepaalde emosionele registers wat in elke rolprent teenwoordig moet wees.”

Simon woon ook in Onrus en verklap dat sy volgende dokumentêre reeks oor ‘n baie interessante en omstrede mens uit Suid-Afrika se onlangse

geskiedenis handel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article