Jeff Petersen (die nuwe president van die Malmesbury-rolbalklub), Daniel Griebenauw, Rainier van Zyl en Zelda Jordaan.


Jeffrey Petersen is onlangs as die nuwe president van Malmesbury se rolbalklub verkies.

Hy neem die rol van die vorige president, Roux Vermeulen, oor. Vermeulen was sowat tien jaar die president van die klub.

Die verkiesing het verlede Maandag (22 Julie) gedurende die klub se algemene jaarvergadering plaasgevind, waartydens die nuwe bestuur ook saam met Petersen verkies is. Hy en Kobus Vermeulen (visepresident), Altus Myburgh (kassier/sekretaris) en Daniël Griebenauw sien nou daarna uit om die klub na nuwe hoogtes te neem. Dit is ook hul missie om groter bewustheid oor rolbal en die klub onder die gemeenskap van Malmesbury te vestig.

“Ons gesamentlike visie is om meer spelers vir die klub te werf en die spel onder veral jonger spelers te bemark,” het Petersen in ’n verklaring gesê.

Die klub nooi alle belangstellendes om hul slag op die rolbalbaan te kom wys.

“Met die sakelui-toernooi wat om die draai is, hoop ons om so veel as moontlik lus vir die spel aan te wakker.”

Die klub sien daarna uit om belangstellendes en nuwe spelers vir die begin van die nuwe seisoen in Oktober vanjaar te verwelkom.

Klubkompetisies

Die 2024-klubkompetisies is weer eens gekenmerk deur groot opwinding en verrassings. In die vroue-enkelspel het Elrika Lesch met die Novist-trofee weggestap terwyl Tia Petersen as die wenner van die senior trofee vir vroue vir die tweede opeenvolgende jaar aangewys is.

Die Novist-trofee vir die mans is vir die afgelope seisoen aan Kobus “Hamburger” Vermeulen toegeken.

In die mans-enkelspel-kompetisie het Daniel Griebenauw verwoesting gesaai en Roux Vermeulen met 21-4 in die eindstryd ore aangesit.

Die mans-pare was egter ’n perd van ’n ander kleur toe Lodewyk Lesch en Rainier Van Zyl met uitstekende rolbal as die algehele wenners uit die stryd getree het.

Die driespel was op sy beurt uitmergelend, maar met Griebenauw, Petersen en Van Zyl aan die beurt, was die skrif aan die muur.

Die vierspel, wat gekenmerk word deur deurlopende goeie spel in die formaat van die WP-liga se vlagkompetisie, is welverdiend deur Griebenauw, Kobus Vermeulen, Van Zyl en Zelda Jordaan gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article