Verskeie Grootuitdaagbeker-kragmetings is Saterdag (15 Julie) in die Breë-Langebergstreek beslis.

Die Robertson Town-rugbyklub se planne om vanjaar vir die Top-12-kompetisie van die Boland-rugbyunie te kwalifiseer, is nog mooi op koers, terwyl die verdedigende Breë-Langebergkampioen, Rangers Robertson, besig is om stoom te verloor.

Op Robertson het Town met Montagu-klub, die ander Top-12-kwalifiseerder van verlede jaar, op die Van Zylstraat sportterrein met 32-27 afgereken en sy kanse vir die Top-12-kompetisie ’n lekker hupstoot gegee.

Rangers het egter in De Doorns sy rieme styfgeloop teen ’n moeilike Protea-span toe die tuisspan die besoekers van Robertson met 31-26 met die kous oor die kop huis toe gestuur het.

Op die King Edward-sportterrein in Montagu het Villagers Montagu bloed gesweet voordat hy daarin kon slaag om ’n befoeterde Swellendam met 41-32 tot oorgawe te dwing.

Die besoekende Blue Birds van Bonnievale, wat tans in die derde posisie is, het op sy beurt Worcester Perseverance met 35-22 uitoorlê.

Die derbykragmeting tussen Young Hamiltons en Worcester Villagers het in ’n titaniese stryd ontwikkel nadat nie een van die twee spanne wou bes gee nie.

Uiteindelik was dit Hamiltons wat ná ’n hewige stryd tussen dié twee “aartsvyande” 16-14 geseëvier het.

Die ander Grootuitdaagbekerspan in die Breë-Langebergstreek, Ashton United, het ’n loslootjie geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article