44 jaar nadat Albé Grobbelaar van RSG-faam sy eerste radio-rubriek, Historiese Almanak – Onthou jy nog? uitgesaai het, stel hy nou sy gelyknamige boek landwyd bekend. Vir hierdie doel het hy die Malmesbury-boekklub Donderdagaand toegespreek.
Grobbelaar is ‘n radiopersoonlikheid en ouddosent in joernalistiek aan die Universiteit van die Vrystaat. Historiese Almanak het tydens sy beginjare as radioman in Kaapstad ontstaan.
“Dit was lank voor die internet; lank voordat navorsers met die druk van ‘n rekenaarknoppie inligting oor geskiedkundige feite kon insamel,” het hy vertel.
Dit het 18 maande se harde werk en vele biblioteekbesoeke geverg voordat hy die eerste reeks, wat oor ‘n volle jaar sou strek, in Februarie 1982 oor die destydse Afrikaanse Radiodiens aangebied het.
“My eerste aanbiedings van Historiese Almanak het R5 per aanbieding in my sak gebring – dit was toé al min! Verder moes aanbieders ‘uit respek vir die luisteraars’ elke dag met ‘n pak klere gaan werk.”

Terwyl hy die onderwerpe van sy aanbiedings probeer afwissel, het Grobbelaar vinnig baie lesse geleer: “Daar is altyd mense wat meer oor ‘n onderwerp weet, soos nabye familielede van ‘n historiese figuur of mense wat dalk self op die toneel van die nuuswaardigheid was. Verder ontstel sekere onderwerpe mense steeds, byvoorbeeld uitsprake oor Paul Kruger of Adolf Hitler.”
Grobbelaar is vol lof vir sy uitgewer, Marlene Malan van Turksvy Publikasies. “Die magdom onderwerpe is ter wille van die boek in afdelings ingedeel. Die boek begin met geskiedkundige verhale waar ek self op die toneel was. Dit sluit my beriggewing in oor die dood van 24 mense in die perdewedrenbedryf weens ‘n vliegongeluk met die titel ‘Doodsakker in ‘n mielieland’ (1988).
Of Grobbelaar danksy die honderde radiorubrieke ‘n tweede boek van hierdie aard oorweeg? “Ná al hierdie bekendstellings deur die land heen moet ek eers gaan rus, dan sal ek ‘n volgende boek oorweeg!”




You must be logged in to post a comment.