Lt.kol. Uys van der Westhuijzen ontvang ’n medalje namens die president van CIOR, kol. Chris Argent (Officer of the Order of the British Empire) van die Verenigde Koninkryk (Brittanje) deur Vleuelbevelvoerder Graham Banks. By hulle staan brig-genl. Niyabo Mana.


Lt.kol. Uys van Der Westhuijzen van Malmesbury het onlangs op internasionale vlak erkenning ontvang.

Van der Westhuijzen, ’n lid van die Suid-Afrikaanse weermag se reserwemag, was een van slegs 22 offisiere wat op 31 Julie met ’n medalje vir uitstaande diens gelewer aan die reserwemaglede van Estland vereer is. Die geleentheid, waartydens hy die Estlandse reserwe- offisiere se spesiale meriete-kruis (medalje) ontvang het, het tydens ’n spoggeleentheid by die CIOR se presidensiële funksie in Tallinn, Estland, plaasgevind. Die Interallied Confederation of Reserve Officers, beter bekend vir sy Franse akroniem CIOR (La Confédération Interalliée des Officiers de Réserve) verteenwoordig die belange van oor die 1,3 miljoen reserwelede van altesaam 34 nasies van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), wat dit tans die wêreld se grootste en oudste militêre organisasie vir reserwe-offisiere maak.

Die organisasie is onder meer daartoe verbind om ondersteuning en raad, wat reserwesake betref, aan Navo te verleen om dienste op die gebied te bevorder en professionele ontwikkeling van reserwe-offisiere daar te stel. Van der Westhuijzen was die enigste offisier buite Estland wat met die toekenning vereer is.

Hy het kort ná die geleentheid op 2 Augustus nog ’n medalje namens die president van CIOR ontvang in erkenning vir uitstaande diens verrig as die internasionale voorsitter van die Militêre Vaardigheidskomitee.

Hoewel die medaljes nie as senior bo die Suid-Afrikaanse weermag se medaljes beskou word nie, beskryf Van der Westhuijzen dit steeds as ’n groot eer omdat dit internasionale erkenning vir uitstaande diens verteenwoordig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article