’n Slenter is onlangs onder die Swartland-munisipaliteit se aandag gebring waar twee mense wat hulself as werknemers van die munisipaliteit voordoen, inwoners en veral senior inwoners teiken.

Volgens ’n verklaring, uitgereik deur die munisipaliteit, poog hulle om toegang tot huise met skynvoorneme in die naam van die munisipaliteit te kry. Die geleentheid word dan misbruik om inwoners te beroof.

“Die Swartland-munisipaliteit sal nooit probeer om toegang tot inwoners se huise te kry om goed soos muurproppe of krane te tel nie. Water-en elektriese meters wat gelees moet word, is hoofsaaklik aan die buitekant van huise geleë en munisipale werkers het nie toegang tot die binnekant van ’n huis nodig om daardie meters te lees nie.” Die munisipaliteit verduidelik dat slegs seldsame gevalle voorkom waartydens amptenare toegang tot persele benodig, soos byvoorbeeld ad hoc-besoeke om die werking van voorafbetaalde elektrisiteitsmeters na te gaan. Diegene moet ten tyde hul besoeke in besit van hul amptelike munisipale identiteitskaarte wees.

’n Beroep word op alle inwoners gedoen om eers die munisipaliteit te skakel en die identiteit van die betrokkene te bevestig voordat toegang verleen word indien iemand onseker is of onveilig voel.

“Werkers moet ’n bewys van identiteit by hulle dra. Skakel gerus 022 487 9400 om ’n munisipale werknemer se identiteit te bevestig. U veiligheid is vir ons belangrik,” het die munisipaliteit gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article