Living Colour buite Darling vier eerskomende naweek (Saterdag 3 Augustus) sy 100ste parkrun met hope pret, plesier en verrassings wat op deelnemers wag.

Phillipa Wood, die Parkrun-direkteur van die Living Colour Parkrun, beskryf die roete op die plaas Wolwefontein as uitdagend, terwyl die ongerepte natuurskoon van die omgewing vir moontlike lam bene sal vergoed. Volgens haar verkies baie van die deelnemers om eerder die roete te stap, terwyl ander weer die 5km teen ’n vinniger pas voltooi. Die Parkrun, wat Wood se inisiatief was, vind elke naweek plaas, of dit nou stormweer of sonskyn is, skerts sy. “Die roete is regtig een van die mooiste Parkrun-roetes wat ek nog gesien het,” voeg sy opgewonde by.

Die roete se afbakenings en aanwysings is onlangs oorgedoen met behulp van klippe al langs die roete, wat deur ’n plaaslike inwoner en kunstenaar van Darling, Omnia Grobler beskilder is.

Deelnemers kan gedurende die feesvieringe uitsien na ’n skattejag met klippe wat deelnemers op die roete moet vind om vir groot pryse in aanmerking te kom. Die pryse sluit onder meer vonkelwyn van Darling Cellars en ’n ontbyt by Living Colour in.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article