Die Wes-Kaapse staande komitee van maatskaplike ontwikkeling hou in Oktober openbare gesprekke oor die wysigingswetsontwerp vir ouer mense in die provinsie.

Die wetsontwerp, wat vroeër vanjaar na die Nasionale Raad van Provinsies verwys is, is daarop gemik om die ouermensewet van 2006 te wysig ten einde die wetgewing rakende die sorg vir ouer mense in Suid-Afrika te verbeter.

Die wetsontwerp verseker dat alle individue van 60 jaar of ouer erken word as “ouer mense” en geregtig is op die beskerming van die wet. Dit gaan oor uitdagings soos mishandeling, verwaarlosing en skadelike praktyke en bemagtig maatskaplike werkers, gesondheidsorg­verskaffers en die polisie om ouer mense na ’n tydelike veilige fasiliteit te verwyder as hul veiligheid bedreig is.

Die wetsontwerp fokus op interdepartementele koördinasie en vereis die registrasie van sorggeriewe.

Die gesprekke bied ’n geleentheid vir die publiek om in te skakel by die voorgestelde veranderinge en om hul demokratiese reg op lewendige betrokkenheid by die wetgewingsproses uit te oefen.

Die gesprekke word soos volg gehou:. Worcester: Woensdag 16 Oktober van 10:00 tot 13:00, Worcester-stadsaal, Hoogstraat 93;. Caledon: Donderdag 17 Oktober van 10:00 tot 13:00, Caledon-stadsaal, Pleinstraat 22. Kaapstad: Vrydag 18 Oktober van 16:00 tot 18:00, raadskamer, sesde vloer, Walstraat 7;. Beaufortwes: Vrydag 11 Oktober, 16:00 tot 18:00, Mandlenkosi-jeugsentrum, Ngesilaan 1, Sidesaviwa;. Saldanha: Woensdag 9 Oktober van 10:00 tot 13:00, Veeldoelige sentrum, White City, Trichardtweg 41; . George, Donderdag 3 Oktober van 16:00 tot 18:00, Conville-gemeenskapsaal, Pienaarstraat 1.

Die DA Wes-Kaap se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, Wendy Kaizer-Philander, het gesê: “Die Demokratiese Alliansie (DA) ondersteun die wysigingswetsontwerp vir ouer mense – veral die fokus op aanspreeklikheid en verbeterde dienslewering. Ons is bekommerd oor die praktiese uitdagings van implementering, veral gegewe die gebrek aan duidelikheid oor die koste-implikasies. Met nasionale begrotingslimiete wat druk op provinsiale hulpbronne plaas, vra ons hoe hierdie wetsontwerp onder die huidige finansiële beperkings doeltreffend ingestel en toegepas kan word. Ons moedig alle betrokke inwoners van die Wes-Kaap aan om hul stemme oor hierdie wetsontwerp te laat hoor.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article