Twee oud-Swartlanders het onlangs – op Woensdag 29 Oktober – in Krieket Suid-Afrika se provinsiale T20-wedstryd in Oudtshoorn saam as skeidsregters opgetree. Die span van Garden Route Badgers het die loot gewen en gekies om teen die Oos-Kaapse Iinyathi-span eerste te kolf.
Hoewel die spelers beïndruk was dat Marais Erasmus, ‘n befaamde internasionale skeidsregter, hul wedstryd sou help beslis, was sommiges onbewus daarvan dat hul twee skeidsregters mekaar 20 jaar gelede in ‘n ander mileu leer ken het. Erasmus was Wilhelm Nell se onderwyser in Laerskool Swartland op Malmesbury.

Erasmus het later uit die onderwys bedank om sy loopbaan as internasionale krieketskeidsregter voort te sit.
LEES OOK: Malmesbury-skeidsregter tree uit internasionale krieket
Hy het in 398 hoëprofiel- internasionale wedstryde vir die internasionale krieketraad (IKR) opgetree en is drie keer as die beste internasionale skeidsregter van die jaar aangewys.
Nadat Erasmus verlede jaar uit die internasionale krieketdomein getree het, het hy en sy gesin uit Malmesbury na Hermanus verhuis. Hy werk tans saam met Krieket Suid-Afrika (KSA) as mentor vir opkomende skeidsregters.
Wilhelm Nell het hom ná sy skool- en universiteitstudies as krieketskeidsregter bekwaam en dien as skeidsregter vir KSA se Divisie 2. Hy woon in Durbanville.
• Die Iinyathi-span het die Badgers verlede Woensdag met ses paaltjies geklop.






You must be logged in to post a comment.