Swartland skop die jaar op ’n hoë noot wanneer die Swartland-munisipaliteit die heel eerste Burgemeestersbeker-rugbytoernooi op 24 Februarie hou.

Die toernooi is die eerste stap in wat Swartland gaan poog om ’n jaarlikse geleentheid op die plaaslike sportkalender te maak. Namate die toernooi ontwikkel en groei, sal ander sportkodes ook betrek word, waaronder netbal en sokker.

Sestien spanne van reg oor die Swartland gaan deelneem. Die wedstrydbepalings, wat uit verkorte wedstryde sal bestaan, sal op 22 Februarie bepaal word tydens ’n spesiale geleentheid wat op die munisipale Facebook-blad uitgesaai sal word en op 24 Februarie sal die hele Swartland-rugbybrigade by die Wesbank-sportterrein in Alfastraat saamkom.

Selfs hierdie klein begin is reeds ’n reusagtige onderneming in wat beloof om ’n opwindende dag vir die hele gesin te wees. Die hekke open reeds om 07:00 Saterdagoggend. Toegang is gratis vir pensioentrekkers, mense met gestremdhede en kinders jonger as sewe jaar. Kaartjies vir kinders van sewe tot 13 kos R10, en kaartjies vir volwassenes en almal ouer as 14 kos R20.

’n Verskeidenheid kosstalletjies sal beskikbaar wees, asook ’n biertent.

Geen alkohol mag van buite af in gebring word nie en veiligheidswagte sal mense se sakke ens. nagaan om te verseker almal voldoen aan die reëls.

Hierdie toernooi is die passie-projek van die uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas. Cleophas glo in die positiewe invloed wat sport op nasiebou en sosiale verandering het. “Kyk net wat het verlede jaar met die Rugbywêreldbeker en meer onlangs met die MMA-vegter Dricus du Plessis gebeur. Die hele land het soos een man agter hulle verenig ongeag hul verskille. Sport is ongelooflik kragtig en by Swartland wil ons daai positiewe energie vat en dit tot die verbetering van ons hele gemeenskap aanwend” sê Cleophas. . Kom ondersteun gerus jou gunstelingspan op 24 Februarie.

Hou die munisipaliteit se Facebook-blad dop vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article