Media24 het verlede week goedkeuring van die Mededingingskommissie gekry om voort te gaan met die verkoop van sy Plaaslike Gemeenskapsnuus-afdeling aan Novus Holdings.
Die Swartland Gazette, onder die Boland Media-vaandel, is by hierdie kooptransaksie ingesluit.
Die transaksie tussen Media24 en Novus Holdings is tans aan die gang. Novus Holdings, ’n markleier en een van Afrika se grootste drukproduksiebedrywighede, werk nou saam met plaaslike koerantuitgewers om te verseker dat alle uitgewersaktiwiteite ononderbroke bly.
Esmé Smit, hoofbestuurder van Gemeenskapsnuus, is opgewonde oor die geleenthede wat hierdie oorgang vir die gedrukte en digitale hiper-plaaslike nuuslandskappe bied. “Die oorgang het ten doel om die gehalte van ons publikasies te verbeter, om te verseker dat hulle relevant bly en verbind is met die gedeelde ruimte waarin ons leef.”
Smit voeg by: “Ons sal aanhou om daar te wees wanneer die meeste winkeldeure vir die eerste keer oopmaak, en berig oor plaaslike sport, skolenuus, munisipale nuus en gemeenskapsaangeleenthede en ons lesers te alle tye ingelig hou oor opbouende nuus, maar ook enige onsmaaklike praktyke in ons gebiede.”




