Plaaslike biblioteke loop onder kritiek deur weens tegniese probleme met die databasisbedryfstelsel wat inwoners onder meer verhoed om nuwe lidmaatskap uit te neem.

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

Verskeie navrae rakende die plaaslike biblioteek in Malmesbury het die afgelope ruk na vore gekom nadat biblioteekgangers ingelig is oor probleme wat dié diensverskaffer reeds sedert verlede jaar met hul databasisbedryfstelsel ervaar.

Ontevredenheid heers onder sommige inwoners rakende die kwessie. Van die inwoners wil onder meer weet waarom nuwe lidmaatskap nie nou aangegaan kan word nie.

Die Swartland-munisipaliteit het op navraag bevestig dat alle biblioteke in die Wes-Kaap sedert 15 November 2022 “van lyn af” is en dat die tydelike situasie dus nie slegs ’n plaaslike probleem by die Malmesbury-biblioteek is nie.

Die munisipaliteit het in ’n amptelike verklaring op navrae gereageer deur te verduidelik dat die departement van kultuursake en sport se Sita-biblioteek-en-inligtingbestuurstelsel (Slims) ’n reusagtige tegniese onderbreking ervaar het.

“Slims is die gerekenariseerde databasisbedryfstelsel vir openbare biblioteke in die Wes-Kaap,” verduidelik die munisipaliteit.

Die stelsel word deur die Staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) aangebied en onderhou. Dit word gebruik om boeke uit te gee, in te neem, statistieke by te hou, katalogisering van nuwe voorraad te doen, asook talle ander funksies. Die verklaring lui verder die provinsiale departement het ’n tegniese span aangestel om aan die probleem te werk.

“Ten spyte van die probleem is al die Swartland-biblioteke oop en maak ons gebruik van ’n handuitreikstelsel om voortgesette dienslewering te verseker,” voeg hulle by.

Biblioteke is daagliks tussen 09:00 en 17:00 oop en materiaal kan uitgeneem en terugbesorg word. Geen items kan egter tydens beurtkrag uitgeneem word nie.

Die versekering is gegee dat nuwe lede welkom is om by plaaslike biblioteke aan te sluit. In hierdie stadium kan nuwe lede slegs van Libby, ’n aanlyn platform vir gratis e-boeke en audio-boeke, gebruik maak.

“Ons biblioteekpersoneel sal u enige tyd help en wys hoe die platform werk,” voeg die munisipaliteit by.

Die provinsiale departement het egter bepaal geen nuwe boeke kan tans deur nuwe lede uitgeneem word nie, omdat die sentrale stelsel (Slims) nie die rekords van inwoners kan nagaan nie. Biblioteke het egter skenkersboeke wat nie deel van die provinsiale stelsel is nie en wat nuwe lede wel kan uitneem.

Die publiek word gevra om geduldig te wees omdat boeke per hand uitgereik moet word. Die personeel beloof steeds om die beste dienslewering tot die beste van hul vermoë te bly bied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article