‘n Personeellid in die De Bron-winkelsentrum in Malmesbury is vir sy flink optrede geloof nadat ‘n brand bo in die dak van een van die winkels ontstaan het.
Brent Baatjies (44), die bestuurder by die MTN-tak, het omstreeks 10:50 gehoor hoe mense “brand” skree en personeel by die PnP-winkelsentrum uithardloop. “Niemand wat nader gehardloop het, het daaraan gedink om ‘n brandblusser saam met hulle te bring nie,” dink hy terug.
‘n Kliënt vra toe of hulle een het, waarop Baatjies gereageer het. “Ek het oorgehardloop en die brand gaan blus. Gelukkig was dit die een met die poeier. Ek het daarna soos Kersvader gelyk,” lag hy. Gelukkig het Baatjies in die verlede al ‘n brandblusser gebruik en geweet hoe dit werk.
Die Swartland-munisipaliteit se brandweerdienste het om 10:53 ‘n oproep ontvang en was drie minute later op die toneel. Die brandweer het bevestig dat die brand in die dak van die winkelsentrum ontstaan het, waar drade gebrand het.
“Die brandweer het inspeksie gedoen en verseker dat alles veilig is voordat hulle teruggestaan het,” sê die departement. Geen skade is aan enige produkte veroorsaak nie en niemand is in die voorval beseer nie.





