Die Franse renjaer Sebastien Ogier en sy navigator, Julien Ingrassia, jaag in Oktober verlede jaar in die Katalaanse tydren in Salou, Spanje. Foto: Getty Images


Die mense het gepraat en die organiseerders van die gewilde Swartland-tydren het geluister.

Vanjaar kan motortydren-entoesiaste en inwoners van die streek ná vyf jaar weer uitsien na ’n ronde van die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap, wat in hul eie agterplaas gebeur.

Die tweede ronde van die Suid-Afrikaanse nasionale motortydren­kampioenskap vind eersdaags op 12 en 13 April hier plaas.

Volgens die organiseerder Kes Naidoo was die laaste Swartland-motortydren in 2016 nadat die byeenkoms vir die afgelope paar jaar in die Overberg plaasgevind het.

Naidoo voeg by dat talle borge deur die jare aan die tydren onttrek het, wat deelname vir nasionale spanne bemoeilik het. “Baie van die nasionale spanne is nie in die Kaap nie en kostes is maar hoog om hier te kom deelneem.”

Naidoo moedig sakeondernemings en aanhangers aan om betrokke te raak en die gewilde tydren te ondersteun sodat die byeenkoms op streek- en nasionale vlak kan bly voortbestaan.

Die eerste plaaslike motortydren het in 1980 plaasgevind en het as die Tolken Toyota-tydren bekend gestaan.

Tydrenjaers sal op al twee dae om 10:00 die oggend by Hyundai Malmesbury wegspring. Die roete vir Vrydag 12 April vind in die omgewing van Malmesbury asook later die middag by die Killarney- renbaan plaas, terwyl die tydrenjaers die volgende dag in die omgewing van Riebeek-Kasteel teen mekaar sal meeding.

Die dienspunt vir 12 April is op die terrein van die Hoërskool Swartland in Malmesbury, terwyl die dienspunt vir 13 April by die Du Vlei-padstal tussen Hermon en Riebeek-Kasteel sal wees.

Verskeie besigtigingspunte sal binnekort bekend gemaak word vanwaar toeskouers die tydren sal kan dophou.

Die amptelike prysuitdelingsgeleentheid sal na afloop van die byeenkoms by Jolly Olive in Riebeek-Kasteel plaasvind.. Vir meer inligting of ’n geleentheid om betrokke te raak, bel Naidoo by 082 994 4032.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article