Arno Welkom
Sers. Arno Welkom (41)

Arno Welkom (41) van Malmesbury is Vrydag 11 Julie in Nelspruit as die Suid-Afrikaanse Potspel-enkelkampioen vir sy ouderdomsgroep (40 tot 49) gekroon.

Die Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskap (Blackball) is tussen Saterdag 5 en Vrydag 11 Julie in Mpumalanga by die eBundu Lodge beslis, waar Welkom die eerste keer Proteakleure vir potspel verwerf het.

Hy gaan nou die land in Maart aanstaande jaar by die Wêreld-potspel-kampioenskap in Burlington, Engeland, verteenwoordig.

Welkom, die afgelope 19 jaar ‘n polisiebeampte by die Moorreesburg-polisiekantoor, speel reeds van ‘n baie jong ouderdom af. As ‘n sersant het hy ook al sewe polisiepotspeltoernooie, aangebied deur die SAPD, gewen. Hy het ook die geskiedenisboeke herskyf deur die eerste lid in die SAPD te wees wat die titel opraap het.

Volgens hom bly die sport ‘n uitdagende spel, omdat elke spel van die vorige verskil. “Potspel is basies probleem- oplossing,” verduidelik hy en sê dit is wat die sport vir hom so lekker maak.

Hoewel hy nie ‘n nuweling in die sport is nie, het die onlangse kampioenskap streng mededinging opgelewer.

Altesaam 145 mense van al nege provinsies het gespeel. Sy laaste vyf teenstanders was elk reeds ‘n nasionale potspelspeler.

Welkom hou sy lyf graag afrigter by ‘n plaaslike skool in Malmesbury en oefen sowat drie keer per week vir twee ure lank. Hy het ook sy eie potspelklub op die been gebring en het sewe spelers. Hulle ding mee onder die Drakenstein Potspelunie-liga.

Welkom moedig jongmense aan om by die sport aan te sluit, omdat dit op nasionale vlak deure open. Hy is veral dankbaar teenoor sy familie en vriende se steun, asook sy stasiebevelvoerder. lt.kol Pierre Burger, vir sy volgehoue steun in die sport.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article