‘n Moontlike geval van die hoogsaansteeklike en gevreesde virussiekte Bek-en Klouseer word op ‘n plaas in die Swartland ondersoek.
Die Swartland-munisipaliteit het Woensdagmiddag (25 Februarie) in ‘n verklaring bevestig hulle is in kennis gestel van die onbevestigde geval op ‘n plaas geleë naby die grens van Kaapstad.
Volgens die verklaring is alle belanghebbendes en betrokke partye reeds in kennis gestel van die moontlike geval. Die plaas is tans onder toesig en die situasie word deur die Wes-Kaapse departement van landbou se Wes- veeartsenydienste gemonitor.
Daar word in die stadium nog vir bevestiging gewag nadat laboratoriese toetste gedoen is. “Totdat laboratoriese bevestiging ontvang word, sal alle protokol in terme van bek-en-klouseer toegepas word as of dit ‘n bevestigde positiewe geval is,” voeg die munisipaliteit in hul verklaring by.
Plaaslike wetstoepassing is verder in noue samewerking met verskeie betrokke partye om ‘n sone vir bewegingskontrole af te dwing.
Die munisipaliteit het intussen terugvoering vanaf die departement versoek oor wanneer dit moontlik sal wees om die BKS-inentings in die Swartland te begin toedien.
LEES OOK: One million FMD vaccines arrive in SA amid national outbreak
“Die Swartland is ‘n kritieke streek vir melkerye in die Wes-Kaap. Daarom doen ons ‘n beroep op alle belanghebbendes om hul samewerking in terme van veiligheids -en sekuriteitsmaatreëls te gee om die verspreiding en impak van die BKS-siekte te voorkom.”
Die bek-en-klouseer-virus tas diere met gesplete kloue aan en is grootliks ‘n probleem onder beeskuddes, hoewel skape, bokke en varke ook vatbaar is, verduidelik die departement van landbou in ‘n verklaring wat sedert die positiewe geval in Gouda einde verlede jaar die ronde doen.
Samewerking is noodsaaklik vir die bekamping van die siekte, meen die munisipaliteit.
LEES OOK: Coffee roastery partners with agricultural organisation to aid FMD-affected farmers



