Lede van die Malmesbury-polisie het die afgelope Sondag inligting rakende ’n skietvoorval ontvang en summier ondersoek ingestel.
Die voorval het omstreeks 01:30 by die Protea-woonstelle in Wesbank, Malmesbury, plaasgevind.
Met die polisie se aankoms op die toneel kon sommige lede van die publiek aan die polisie wys in watter rigting die skieters op die vlug geslaan het.
Die polisie het die verdagtes agternagesit en drie mense wat aan die beskrywing voldoen het, in Basilliestraat voorgekeer en deurgesoek.
Volgens die polisiewoordvoerder kapt. Marko Heydenrych, is ’n .357 Magnum-pistool, asook ses patrone by hulle gekry.
Die drie verdagtes van ongeveer 16 en 17 jaar oud is op die plek in hegtenis geneem en van die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie aangekla.
Die verdagtes, wat almal minderjarig is, is later weer vrygelaat.
Die datum van hul voorgenome hofverskyning sal later bekend gemaak word.
Die Malmesbury-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Luthando Nosilela, het sy dankbaarheid teenoor die plaaslike gemeenskap vir hul hulp in die stryd teen misdaad uitgespreek.



